Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 33:3: “My woorde kom uit ’n opregte hart; my lippe spreek eerlik wat ek weet.”
Elihu tree na vore in die gesprek met Job. Anders as Job se ander vriende, glo hy God kan ’n doel met lyding hê. Hy praat met groot sekerheid en glo dat sy woorde wysheid van God bevat. Tog benader hy Job nie met meerderwaardigheid nie, maar met nederigheid. Hy herinner Job daaraan dat hulle albei deur God geskep is en maar net klei is (33:4, 6).
Elihu meen dat Job verkeerd oor God praat (33:12). Hy herhaal Job se klagtes (33:9-11). Job sien God nou net as ’n aanklaer of regter, maar God se planne is groter as wat mense kan verstaan. Hy glo God is nie stil in lyding nie: “God spreek die mens aan; Hy huiwer nie om dit op meer as een manier te doen nie” (33:14). Daarom is die vraag nie net: “Waarom gebeur dit?” nie, maar ook: “Wat wil God dalk hierdeur sê?”
Tog maak Elihu ’n fout deur Job se lyding te probeer verklaar. Hy neem aan God is besig om deur hierdie lyding Job se aandag te trek. Hoewel God soms lyding kan gebruik om met mense te praat, was dit nie die rede vir Job se lyding nie. Job was onskuldig. Ons moet daarom versigtig wees om ander mense se lyding te verklaar op grond van ons beperkte begrip daarvan.
Here, weerhou ons daarvan om ander mense se lyding te verklaar. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie