Bybel
Bybel

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Job 9:22: “Eintlik is dit om ’t ewe, daarom dink ek: of ’n mens skuldig is of onskuldig, God vernietig jou tog.”


Kom ons kyk weer na Job se vriende se siening van lyding. Hulle het geglo lyding is altyd die gevolg van persoonlike sonde. 

Volgens hulle seën God mense wat reg leef en straf Hy dié wat verkeerd doen. Elifas het gesê: “Dink daaroor na: Het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan?” (Job 4:7). Sofar het Job aangemoedig om hom te bekeer en belowe dat voorspoed sou terugkeer as hy sonde uit sy lewe verwyder (Job 11:13-17).

Hierdie idee werk met oorsaak en gevolg: Probeer net harder en God sal jou beloon. Dit skep ook die beeld van ’n God wat net wag dat mense sondig, sodat Hy hulle kan straf, terwyl Hy dié beloon wat goed genoeg presteer.

Ongelukkig hoor ons dit vandag nog. Sommige leer dat ware gelowiges altyd gesond, suksesvol en voorspoedig sal wees. Dan begin mense God dien vir wat Hy gee, eerder as vir wie Hy is.

Die boek Job verwerp hierdie siening. Daar is nie altyd ’n direkte verband tussen lyding en persoonlike sonde nie. Jesus, die Man van Smarte, was die regverdigste mens wat ooit geleef het, maar Hy het ook baie gely (Jesaja 53:3).

Wanneer lyding nie sin maak nie, kyk ons na Jesus. Hy het die pyn van sinnelose lyding op Hom geneem sodat Hy by ons kan wees in ’n gebroke wêreld vol sinnelose lyding.


Here, bewaar ons van verkeerde idees oor lyding. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-09-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer