Bybel
Bybel

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

1 Petrus 4:14: “Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.”


Een soort lyding is God se wil: Lyding ter wille van Christus. Hierdie lyding het sin.

Eerstens kan dit ons geestelik laat groei (Romeine 5:3-5; Jakobus 1:2-4). God gebruik moeilike tye om volharding, geestelike volwassenheid, karakter en hoop in ons te vorm. Dit leer ons ook om meer op Hom te vertrou.

Tweedens is lyding ter wille van Christus deelname aan sy lyding (Filippense 3:10; Kolossense 1:24). Christene ervaar verwerping. Opoffering is deel van ons lewe. Hierdie soort lyding het ’n spesifieke doel. Paulus sê: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood” (Fil. 3:10-11).

Derdens kan ons swaarkry ander mense bemoedig (2 Korintiërs 1:3-7; 1 Petrus 2:20-21). God troos sy kinders in moeilike tye, sodat hulle ander kan troos. Wanneer mense sien hoe God ons help en dra, wys dit vir hulle sy teenwoordigheid, getrouheid en genade. Swaarkry bly pynlik. Maar niks kan ons ooit van sy liefde skei nie.


Here Jesus, help ons om te vertrou dat U selfs deur ons beproewings werk. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-09-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer