Bybel
Bybel

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Matteus 25:40: “Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”


Volgelinge van Jesus kan nie menslike lyding ignoreer nie. Van die begin af het Christene hulle liefde gewys deur mense in nood te help. Jesus sê dat mense van God se koninkryk die honger mense voed, water gee vir dié wat dors is, die siekes besoek en omgee vir gevangenes (Matteus 25:31-36). Dit was nie iets wat hulle net nou en dan gedoen het nie. Dit was ’n lewenstyl. 

Toe hulle vir die Koning vra wanneer hulle dit vir Hom gedoen het, antwoord Hy: “Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (25:37-40). Ons protes teen lyding is daarom meer as net woorde teen onreg en boosheid. Ons staan langs mense wat swaarkry en help hulle deur liefde, diens en praktiese hulp. Ons herinner mense daaraan dat Christus by mense in hul lyding staan.

J. H. Bavinck het eenkeer Indonesië besoek en ’n groot kruis gesien met baie klein kruisies daarop. Hy wou weet wat dit beteken. ’n Plaaslike Christen het verduidelik: “Christus het al ons kruise op sy kruis gedra.”

Sy kruis bring hoop, genesing en verlossing vir menslike pyn. Geen lyding word deur God vergeet nie. Geen daad van barmhartigheid wat in Christus se Naam gedoen word, is ooit verniet nie.


Here Jesus, leer ons om ander met U liefde te troos.

Kommentaar

Republikein 2026-07-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer