Bybel
Bybel

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Job 23:3: “As ek maar geweet het waar om God te vind.”


Martin Luther skryf een van die grootste tragedies in die lewe is wanneer God swyg. Waar is God wanneer ons ly?

Hans Küng sê waar Job se verhaal eindig, die evangelie begin. Aan die kruis het Jesus die diepste pyn en verlatenheid ervaar. Hy het uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” In Jesus se lyding sien ons God se teenwoordigheid in ons eie lyding.

Die digter Totius vertel van ’n weduwee wat haar man alleen in die woestyn moes begrawe. Nou moet sy en haar kind probeer oorleef. Tog het sy troos in Christus gevind. Sy sê sy het wel eensaam gevoel, maar nooit só verlate soos Jesus aan die kruis nie. Daarom is die hemel vir ons oop en die hel vir altyd toegesluit. Die kruis wys tegelykertyd op die skynbare afwesigheid van God, toe sy Seun verlate gevoel het, én op God se absolute teenwoordigheid in ons lyding. 

Helmut Thielicke skryf: “God het die hemel verlaat en die uiterste verlatenheid, die hel van menslike angs en die lyding van honger en dors met ons gedeel. Hy het letterlik liefgehad totdat dit Hom doodgemaak het. Daarom mag ons glo dat God se hart aan ons behoort. Hy gee ons nie net ’n vriendelike knik van welwillendheid uit die hemel nie, maar ly saam met ons …” (Uit: I Believe).


Here Jesus, ek vertrou U wanneer dit donker is. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-07-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer