Bybel
Bybel

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Job 23:8-9: “Maar gaan ek na die ooste toe, is Hy nie daar nie; na die weste toe, kry ek Hom nie. Sou Hy in die noorde aan die werk wees, vind ek Hom nie daar nie; sou Hy na die suide toe draai, sien ek Hom nie.”


Job voel God is afwesig. Hy soek oral, maar God is nêrens te vinde nie. Dit is sy diepste pyn. Hy verstaan ook nie wat die Here doen nie. Dit voel heeltemal anders as Psalm 139, waar bely word dat God oral teenwoordig is.

Job se worsteling lei tot moeilike vrae. Is God se beloftes nog waar? Het Hy opgehou om naby aan sy mense te wees? Baie gelowiges het al sulke donker tye beleef. Moeder Teresa het geskryf van jare waarin sy nie God se teenwoordigheid ervaar het nie. Tog het sy aangehou om Hom te dien. C.S. Lewis het ná sy vrou se dood ook gevoel asof God stil geword het toe hy Hom die nodigste gehad het. Dit het vir hom gevoel asof God die deur van binne af gesluit het. Hy antwoord nie.

Hierdie afwesigheid maak Job bang (23:15-16). God doen wat Hy wil. Job voel magteloos voor ’n God wat hy nie verstaan nie. Die hoop om antwoorde te kry, begin verdwyn.

Tog hou Job aan om met God te praat. Eerlike worsteling met God is nie ongeloof nie. Dit is deel van geloof.


Here, bly naby wanneer ons U nie kan voel nie. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer