Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 23:5: “Ek sou die saak voor Hom uiteensit; my mond sou ek vul met pleitredes.” (2020-vertaling)
Job voel hy is op breekpunt onder sy swaarkry. Hy roep na God, maar dit voel asof daar geen antwoord of verligting kom nie. Hy dink aan homself as iemand wat voor God in die hof staan om sy saak te stel. Hy wil die Here se antwoord hoor.
Job glo hy het ’n sterk saak. Hy weet hy het nie verkeerd geleef nie (23:10-12). Ná die verhoor sal hy soos goud anderkant uitkom. Daarom maak sy lyding hom so deurmekaar en hartseer. Die God wat sy lyding toelaat, is ook die Regter wat sy naam kan skoonmaak.
Selfs in sy pyn glo Job nog dat God regverdig is (23:6-7). Dit maak sy worsteling so uniek: hy hou vas aan God ten spyte van God. Baie gelowiges voel ook so.
J.J. Buskes vertel van ’n jong vrou wat ses maande lank in die hospitaal was sonder om te weet of sy beter sou word. Sy het gesê: “Ek glo, maar ek verstaan nie. As God liefde is, hoekom maak Hy my nie gesond nie?”
Soos Job mag ons ook roep, vrae vra en na God soek. God het die klag van sy Seun aan die kruis gehoor. Daarom hoor Hy ook ons s’n.
Here, help my om U te vertrou, selfs wanneer ek nie verstaan nie. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie