Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 16:9: “God het my in sy toorn verskeur en vervolg; in sy woede het Hy my lewe bedreig. Hy, my Teëstander, deurboor my met sy oë.”
Job verstaan nie hoekom hy ly nie. Dit voel vir hom of God stil en ver is. Alles rondom hom lyk onregverdig. Tog hou hy aan glo dat ware geregtigheid nog bestaan (16:18-21). Hy praat eerlik met God oor sy pyn, vrees en vrae. Hier leer ons wat geloof is. Vrae en twyfel hoef nie ons geloof te vernietig nie. Dit is deel van geloof. Geloof is nie altyd rustig en maklik nie. Dit laat ruimte vir hartseer, woede, trane en klagtes.
Ons sien dit nog duideliker in Jesus Christus. Aan die kruis kom geregtigheid en genade bymekaar. Jesus dra die sonde van mense en ervaar self onskuldige lyding, pyn en verlatenheid. Hy kom woon in ons lyding. Tog wys Jesus se opstanding dat lyding en dood nie die laaste woord het nie. Daar is oorwinning te midde van lyding.
In ons lyding hardloop ons eerder na God toe as weg van Hom af. Ons kan ons vrese en klagtes na Hom toe bring. Ons vertrou dat Hy eendag alles reg sal maak. Ons kry nie altyd al die antwoorde nie, maar ons kan aanhou bid, glo en vashou aan God se beloftes.
Here, leer ons om in swaarkry na U toe te draai. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie