Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 16:19: “Selfs nou nog het ek ’n getuie in die hemel; Hy wat vir my getuig, is daar bo.”
Job was desperaat. Hy het verlang dat iemand moet bewys hy is onskuldig. Sy swaarkry het hom laat besef hoe kort die lewe is. In Job 16:22 sê hy dat daar net ’n paar jaar oor is voordat hy na die plek toe gaan waarvandaan niemand terugkom nie. Hy moes nou sy saak stel, anders sou dit vir altyd verlore wees. Hy was ’n eensame figuur. Hy moes sy stryd sonder hulp veg. Iemand moes sy saak in die hemel aanhoor.
Ons situasie is anders as Job s’n. Ons kan nie sê ons is onskuldig nie, want ons ken die werklikheid van sonde en die skade wat dit in ons lewens doen. Daarom verlang ons dat iemand ons onskuldig sal verklaar.
Deur Jesus Christus het ons reeds daardie uitspraak ontvang. Romeine 8:1 sê daar is geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Ons hoop lê nie in ons eie goedheid of in ons vermoë om onsself te verdedig nie. Jesus Christus, die Regverdige, is ons voorspraak, middelaar en verdediger by God. Hy praat namens ons en het die prys vir ons sondes betaal deur sy offer aan die kruis.
Wanneer ons faal, hoef ons nie van God af weg te hardloop nie. Ons hardloop na Hom toe en vertrou op sy genade.
Here Jesus, dankie dat U ons uit genade alleen verdedig en red. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie