Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 16:18-20: “Grond, moenie my bloed bedek nie . . . Kyk, my getuie is in die hemel; die een wat vir my voorspraak maak, is my vriend.” (2023-vertaling)
Job voel asof God sy vyand is. Tog glo hy steeds net God kan hom help en vryspreek. Dit is hoe Bybelse klagtes lyk.
In Job 16:18–20 is daar drie pleidooie wat soos ’n hofsaak klink. Eerstens vra Job dat sy bloed nie bedek moet word nie. Mense het geglo dat onskuldige, onbedekte bloed uitroep om geregtigheid, soos Abel se bloed nadat Kain hom doodgemaak het. Job wil hê sy lyding moet gesien en onthou word. Hy glo hy is onskuldig en wil hê dat God daarvan kennis neem.
Dan sê Job: “My getuie is in die hemel.” Al kan hy nie self voor God staan nie, glo hy sy woorde en gebede word steeds in die hemel gehoor. Sy onskuld word soos die verklaring van ’n getuie in die Here se hof.
Job verlang ook na iemand wat tussen hom en God kan staan – ’n middelaar wat soos ’n vriend vir hom sal praat en sy saak sal verdedig.
Job weet nie hoe God gaan antwoord nie, maar hy vertrou geregtigheid sal eendag kom. As Christene weet ons Jesus Christus is ons Middelaar. Sy onskuldige bloed is vir ons ’n getuienis in die hemel. Deur Hom word ons, wat skuldig was, vergewe en vrygespreek.
Here, dankie dat U ons Vriend en Middelaar is. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie