Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Job 16:2,3: “Julle is almal maar hopelose troosters. Kom daar dan geen einde aan julle sinlose gepraat nie?”


Ek onthou dit nog baie goed. Een van die ouderlinge van die gemeente het my gebel om te sê dat hulle jong dogter skielik aan ’n hartaanval oorlede is. Ons kon net saam huil van skok en hartseer. Ek het die grootste deel van die dag by die familie gebly. Later het baie mense gekom om hulle te troos. Hulle het goed bedoel, maar sommige van die woorde was moeilik om aan te hoor. 

Sommige het gesê: “Alles gebeur met ’n rede,” “God weet die beste,” en “Eendag sal julle verstaan.” Ander het gesê: “God het nog ’n engel in die hemel nodig gehad,” of: “Miskien sou sy later baie swaar gekry het, daarom het God haar daarvan gespaar.” Hierdie woorde het nie my vriende vertroos nie. Dit het probeer om hulle lyding te ontleed en te verklaar eerder as om net by hulle te wees.

Job het dieselfde beleef toe sy drie vriende hom kom troos het. In plaas daarvan om net by hom te wees, het hulle sy lyding probeer verklaar. Daarom sê Job: “Julle is almal hopelose troosters” (letterlik “troosters van moeilikheid”).

Mense wat swaarkry, het eerder liefde en meegevoel nodig as verduidelikings of nuttelose woorde. Ons teenwoordigheid is genoeg, want ons beliggaam God se teenwoordigheid. Dit bring dikwels meer genesing as baie woorde.


Here, help ons om mense met medelye te vertroos eerder as sinnelose woorde. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer