Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 2:9: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”
Daar is ’n kort maar belangrike gesprek tussen Job en sy vrou. Vroeë kerkleiers soos Johannes Chrysostomos en Augustinus was redelik negatief oor Job se vrou. Hulle het gesê sy het ’n instrument van versoeking teen Job geword, amper soos die duiwel se helper. Iemand het selfs gesê dat Satan alles van Job weggevat het, maar sy bitter vrou gelos het om hom verder te pynig.
Ander is meer simpatiek. Sy het ook swaar gely. In die antieke wêreld was ’n vrou se identiteit sterk verbind aan haar familie. Daarom moes haar pyn geweldig gewees het. Sy het haar kinders, huis, veiligheid en plek in die samelewing verloor. Sy het haar man se pyn, siekte en sosiale vernedering gesien. Haar woorde is uit hartseer en wanhoop gebore, nie omdat sy wreed wou wees nie.
Dit is interessant dat God later Job se vriende tereggewys het, maar nooit direk vir Job se vrou nie. Dit wys dalk dat Hy haar lyding verstaan het. Sy wys hoe gewone mense op pyn en teleurstelling reageer.
Haar woorde hou egter verband met die belangrike vraag in hierdie boek: Hoekom dien mense God? Sy het geglo dat gehoorsaamheid seën en voorspoed moet bring. Job leer ons egter dat ons God steeds kan vertrou, selfs in lyding. Die vraag is dus weer: Dien jy die Here net vir die voordele en seëninge?
Here, help ons om getrou aan U te bly, selfs wanneer ons swaarkry. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie