Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Efesiërs 2:4,5: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons, wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!”
Hoekom het God ons gered? Het Hy iets in ons gesien wat Hom hoop gegee het? Nee, wat God gedoen het, is in sy hart gebore (2:4,5). Sy “innige liefde” is sy selfopofferende, onvoorwaardelike liefde. Dit is nie ’n reaksie op menslike verdienste nie. “Ryk in barmhartigheid” beteken deernis met mense in nood, soos die barmhartige Samaritaan (Lukas 10:37). Dit het gebeur terwyl ons nog in sonde was, voordat ons enigiets goeds kon doen. Paulus skryf aan Titus dat Hy ons gered het, nie op grond van ons dade nie, maar omdat Hy ons jammer gekry het en ons liefhet (Titus 3:4-5).
Paulus noem dit genade. Twee keer sê hy: “Uit genade is julle gered” (2:5,8). Die tydsvorm in Grieks wys dat dit ’n voltooide daad is – reeds afgehandel. Nou is dit ’n werklikheid in die hede. God gee dit alles as ’n geskenk (2:8-9). Deur die geskiedenis het sommige gesê die mens is basies goed, ander dat ons net siek is. Paulus sê duidelik: Ons was dood, maar God het ons lewend gemaak – uit genade alleen, deur Christus alleen. Hoe helder skyn die ster van God se genade in ons donkerste nag!
Here, help my om volkome op U genade te vertrou en nie op myself nie. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie