Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Efesiërs 1:18,19: “Ek bid dat. . . julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.”
Paulus bid dat drie dinge vir ons duidelik sal word wanneer die Gees van God ons oë oopmaak.
Eerstens, dat ons die hoop sal ken waartoe God ons geroep het. Ons hoop kom van God self – Hy wat ons geroep het. Dit is die fondament van ons hoop. Daarom is dit vas en seker. Ons toekoms is deur sy Gees gewaarborg (1:13,14). Tweedens, dat ons die rykdom van sy heerlike erfenis sal ken. Paulus praat nie hier van wat ons van God ontvang nie, soos die hemel of seëninge nie. Hy sê dat óns God se erfenis is (sien Deuteronomium 32:9). Hy wil hê ons moet hierdie waarheid verstaan: Ons is kosbaar vir God – sy kosbare besitting, nou en vir altyd. Hy vind vreugde in ons soos iemand wat ’n groot erfenis geniet.
Derdens bid hy dat ons sy onvergelykbare groot krag sal ken. Dieselfde krag waarmee God Christus opgewek en bo alle gesag geplaas het, werk nou in ons.
Scott Hoezee beskryf dit só: Al Jesus se krag is op een of ander manier in die vorm van ons harte verpak!
Dit is wie ons is: God se hoopvolle besitting, gevul met sy krag.
Here, vul ons met u Gees sodat ons met U hoop, sekerheid en krag kan leef! Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie