Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Efesiërs 1:17: “Ek hou aan bid dat die God van ons Here Jesus Christus, die heerlike Vader, aan julle die Gees van wysheid en openbaring sal gee, sodat julle Hom beter kan ken.”


Hoe kan Christus se krag ’n groter werklikheid in ons lewens word? Ons basiese houding behoort te wees om vir mekaar te bid. Paulus se gebed het twee dele: Danksegging en voorbidding. Eerstens dank hy God vir wat Hy reeds in hulle gedoen het. Sy gebed word nie gedryf uit ontevredenheid nie, maar deur ’n begeerte na ’n dieper bewustheid van wat hulle reeds in Christus het. God het hulle gekies, hulle sondes vergewe en hulle met die Heilige Gees verseël (1:3-14).

Tweedens verander lof vir God se genade in volgehoue voorbidding vir verandering. Hy wil hê hulle moet die lewe deur die lens van Christus se opstandingskrag sien. Hy vra dat die Vader aan hulle die Gees van wysheid en openbaring gee, sodat hulle Hom beter kan ken. Die Gees moet hulle harte oopmaak en verlig, sodat hulle tot ’n dieper, persoonlike kennis van God kom. Hierdie groei moet elke deel van die lewe verander.

Hoe kan Christus se krag meer werklik in ons lewens word? Die antwoord is totale afhanklikheid van God in gebed. Kom ons begin nou bid dat God se Gees ons oë sal oopmaak!


Here, maak my hart en verstand oop deur u Gees, sodat ek U beter kan ken. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-06-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer