Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

-
Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Efesiërs 1:20-22: “. . . en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige. Hy het alles onder sy voete gestel.”


Ons leef in ’n wêreld van tiranne op baie vlakke. Hulle tree op asof hulle al die gesag het. Efesiërs 1:20-23 roep ons om stil te word en ’n nuwe, geestelike bril op te sit. Dit wil ons laat sien hoe groot God se krag in Christus is.

God het Christus uit die dood opgewek en so oor die dood getriomfeer (1:20). Hy het Hom aan sy regterhand in die hemel laat sit (1:20-21) (sien Psalm 110:1). In die Bybel wys die regterhand op eer, guns en gesag. Christus is nou bo elke mag en gesag, krag en heerskappy (1:21). Paulus gebruik baie woorde vir mag om een ding duidelik te maak: God se krag is onvergelykbaar. Geen mag – sigbaar of onsigbaar – kan met Hom meeding nie. Elke naam, nou en in die toekoms, is onder Hom.

In ’n wêreld vol tiranne, swaarkry en sonde, regeer Christus. Niks is buite sy beheer nie. God het alles onder sy voete geplaas (1:22; Psalm 8:6). Tiranne regeer nie. Christus regeer. Sy gesag is volkome en ewig.


Here, help my om op U te vertrou en rus te vind in Christus se ewige heerskappy. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-06-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer