Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

-
-
Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Hebreërs 12:3,12: “Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. Versterk daarom die slap hande en die lam knieë.”


Geloof is meer as ’n eenmalige besluit. Leonhard Goppelt skryf dat geloof beteken om vas te hou en aan te hou, selfs wanneer die pad lank is. Die brief aan die Hebreërs herinner ons dat geloof altyd met hoop verbind is (Hebreërs 6:11ff; 10:36, 39; 11:1). Net soos Israel op pad na die beloofde land gesukkel het (Hebreërs 3-4), kan ons ook moeg word, moed verloor of selfs oorweeg om terug te draai na ons vorige lewenstyl. Die waarskuwing is duidelik: Dit is moontlik om moed te verloor en weg te dryf (Hebreërs 3:7-8; 10:26-31).

Wat help ons om aan te hou? Eerstens hou ons ons oë op Jesus. Hy het lyding verduur en nie tou opgegooi nie (Hebreërs 12:1-3). Tweedens stap ons saam met ander. Ons word geroep om mekaar aan te moedig en op te bou (Hebreërs 3:12-13; 10:24-25). Wanneer iemand swak word, help ons om hulle te versterk.

Dink aan ’n lang reis waar reisigers mekaar aanmoedig op pad huis toe. Laat ons mekaar herinner dat iets beter voorlê.


Here Jesus, help my om my oë op U te hou. Gebruik my om ander aan te moedig sodat ons saam hierdie reis kan voltooi. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer