Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Lukas 10:33: “Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.”


Fyodor Dostojewski het gevra: “Wat is die hel? Dit is die lyding om nie te kan liefhê nie.” Hierdie soort hel word uitgedruk in die vraag: “Wie is my naaste?” Ons wil liefde beperk tot mense soos ons – ons familie, vriende of mense wat dieselfde glo en leef.

Jesus wys dit is verkeerd. In sy gelykenis sien godsdienstige leiers ’n man wat seergekry het en loop verby. Hulle lyk vroom, maar hulle harte bly koud. Dan kom ’n Samaritaan, iemand wat deur die Jode verag is. Hy stop, sien die man raak en sy hart word diep geraak.

Die woorde wat sy reaksie beskryf, verwys na iets wat jou binneste aanraak, soos ’n golf van emosie wat jy nie kan terughou nie. Dit roer ons harte. Hy voel nie net jammer nie – hy doen iets. Hy versorg die man se wonde, neem hom na ’n veilige plek en sorg dat daar verder na hom omgesien word.

Jesus vervang die vraag: “Wie is my naaste?” met: “Is ek ’n naaste vir ander?” Ware liefde steek die grense van verskille, ongemak en vooroordeel oor. Ander se lyding breek ons harte en beweeg ons tot aksie. Dit kos iets, maar dit wys God se hart. 

J.R. Michaels het opgemerk dat die ewige evangelie ewige lewe belowe en ons tot ewige liefde roep.


Here, help my om nie my liefde te beperk nie. Maak my ’n ware naaste. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer