Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

2 Korintiërs 2:7,8: “Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. Daarom vra ek julle: Bewys liefde aan hom.”


Stel jou voor dat jy voor mense staan wat jy seergemaak het. Voel die gewig van openbare teregwysing en skaamte. Dit is die situasie wat Paulus beskryf – ’n persoon wat deur die gemeente gedissiplineer is en nou gevaar loop om deur hartseer verpletter te word.

Paulus se bekommernis is opvallend. Hy fokus nie meer op die oortreding nie, maar op die persoon se welstand. Te veel dissipline kan tot wanhoop lei. Die gemeente moet vergewe en liefhê. Wanneer ons die diepte van ons eie gebrokenheid verstaan, hou ons op om onsself bo ander te verhef. Christene moet nederigheid aanleer. 

Dietrich Bonhoeffer skryf: “As my sondigheid vir my op enige manier kleiner of minder afstootlik lyk in vergelyking met die sondes van ander, erken ek nog glad nie my eie sondigheid nie. My sonde is die ergste, die swaarste, die mees verwerplike. Hy wat sy broer in die gemeenskap wil dien, moet afdaal tot in hierdie dieptes van nederigheid.”

Vanuit daardie plek kan ons langs ander stap met medelye. Ons hou op vergelyk. Ons hou op om te veroordeel. In plaas daarvan word ons mense wat ander optel, omdat ons weet dat ons self deur genade gedra word.


Here, help my om my eie sonde duidelik te sien, sodat ek genade vryelik kan uitdeel. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer