Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
2 Korintiërs 2:5,7: “As iemand droefheid veroorsaak het, moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig; anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor.”
Dis nie maklik om oor sonde te praat nie. Ons hou ook nie daarvan om reggehelp te word nie. Tog moet ons mekaar help. Paulus se briewe leer ons om mekaar lief te hê, te onderrig, te vergewe en te dien. Soms help ons ander; soms help hulle ons om op die regte pad te bly.
Daar is ook ’n groter prentjie.
Willie Jonker noem vier redes waarom ons mekaar moet reghelp. Eerstens, sodat mense God se genade kan ervaar wanneer hulle sondig. Ons kan afdwaal, maar ons moet mekaar herinner dat God vergewe en dat ons na Hom kan terugkeer. Tweedens, ter wille van die heiligheid van die kerk. Die kerk behoort aan Christus en moet heilig wees. Daarom moet verkeerde dinge soms aangespreek word.
Derdens, sodat die getuienis van die kerk duidelik kan wees. Sonder duidelike standaarde kan die kerk nie ’n lig vir die wêreld wees nie. Vierdens, tot eer van God. Jonker vra: Hoe kan dit God eer as sy mense soos die wêreld lyk? As ons sonde ignoreer, lyk dit of ons nie vir Hom omgee nie.
Ons help mekaar omdat God se eer, die behoud van die sondaar, en die heiligheid en getuienis van die kerk op die spel is.
Here, leer ons om mekaar reg te help en om ook reggehelp te word. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie