Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Romeine 15:14: “. . . ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help.”


Paulus sê gelowiges kan mekaar “reghelp”. Die woord beteken ook “waarsku”, “raad gee” en “vermaan”. 

Gene Getz verduidelik dat hierdie woord nie net informele raad beteken nie, maar liefdevolle én ferm teregwysing wat daarop gemik is om iemand te help groei (sien ook 1 Kor 4:14; Kol 1:28; 3:16; 1 Tess 5:12, 14; 2 Tess 3:15). Hierdie vermoë berus op twee dinge: Goedheid en kennis. Goedheid is ’n lewe wat Christus se karakter weerspieël. Kennis beteken ’n diep insig in God se Woord. Sonder dit kan teregwysing hard of trots wees. Met dit word dit opbouend en herstel dit mense. Ons oordeel nie volgens ons eie opinies nie, maar volgens die Skrif. Die doel is altyd om op te bou. Daarom waarsku Paulus teen veroordeling (14:1; 15:1). 

Dit gaan nie oor óf ons vermaan nie, maar hóé en hoekom ons dit doen. Getz beklemtoon daarom ook selfondersoek. Voor ons iemand anders reghelp, moet ons seker maak ons eie lewe is in lyn met God se Woord. Dit hou ons nederig en opreg. Teregwysing vra ook moed, want mense kan dit verkeerd verstaan of selfs verwerp. Tog, as ons motief liefde is en ons standaard God se waarheid, kan dit met tyd vrug dra.


Here, help my groei sodat ek ander met liefde en wysheid kan reghelp. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer