Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Galasiërs 5:22: “Die vrug van die Gees is liefde. . .”
Liefde word in 1 Korintiërs 13 beskryf as dié gawe van die Heilige Gees. Enigeen wat Jesus en sy Gees het, het hierdie gawe. Al die spesiale gawes beteken niks as dit nie deur liefde gelei word nie.
Sonder liefde is die gawes soos ’n geraas (13:1), niks werd nie (13:2) en bring geen voordeel nie (13:3). Slegs deur liefde maak die gawes sin.
In Galasiërs word die prentjie groter. Paulus praat van die werke van die sondige natuur (Galasiërs 5:19-21). Dit is slegte gedrag wat vanself kom. Dit maak mense seer. Dit veroorsaak chaos. Dit bring skeiding tussen mense.
Alles verander wanneer die Gees van God ons lewens beheer. Dan dra ons die vrug van die Gees. Let op: hy sê “vrug,” nie “vrugte” nie. Dis soos ’n tros druiwe – een vrug met baie korrels. Jy kan nie net een deel kies en die res ignoreer nie. Dis alles of niks. Nederigheid, getrouheid, vriendelikheid en al die ander is uitdrukkings van liefde.
Alles wat ons doen – ons diens, goeie dade en geestelike gawes – moet deur liefde beheer word. Moeder Teresa skryf sy het gevind dat as sy liefhet totdat dit seermaak, dit nie meer seermaak nie, maar eerder groter liefde tot gevolg het.
Gees van God, vul my en gebruik my om alle mense met liefde te dien, in Jesus se Naam. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie