Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
1 Korintiërs 12:7: “Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.”
Selfgesentreerdheid het die kerk siek gemaak. Party mense dink dat hulle verhouding met God privaat is. Jou verhouding met God is persoonlik, maar nooit privaat nie. Veral in 1 Korintiërs 12-14, Romeine 12 en Efesiërs 4 sien ons dat God verskillende gawes aan gelowiges gee. Hierdie gawes word aan individue gegee, maar dit is bedoel om die hele gemeente te dien. Dit maak eers regtig sin wanneer dit gebruik word om ander te dien en die kerk op te bou (Efesiërs 4:11-15).
Elke persoon het verskillende gawes. Stephan Joubert het geskryf dat Christene nie afdrukke van mekaar is nie. Ons is almal anders en belangrik. Ongelukkig het baie Christene nog nooit die geskenkpapier van hulle hemelse gawes afgehaal nie. Ander het dit net vir ’n rukkie oopgemaak en dit toe weer toegedraai en in ’n kas gesit om stof op te gaar.
In Korinte het party gelowiges onbelangrik gevoel omdat hulle nie indrukwekkende gawes soos ander gehad het nie (1 Korintiërs 12:15-20). Hulle het hulself onttrek. Ander het weer trots geword en gedink hulle het niemand anders nodig nie (1 Korintiërs 12:21-25). Albei houdings is verkeerd. Net soos jou liggaam elke deel nodig het – selfs jou groottoon of ore – het jou kerk jou nodig.
Heilige Gees, help my om my gawes te gebruik om ander te dien en U kerk op te bou. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie