Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Romeine 5:15: “Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk.”


’n Ou lering van Pelagius het gesê dat mense neutraal gebore word en self kan kies om goed te doen, omdat Adam se sonde geen invloed op ons het nie. Die vroeë kerk het egter hierdie siening verwerp. Die kerk het geleer dat Adam se sonde die mensdom onder die mag van sonde geplaas het. Ons toekoms sou daarom donker en sonder hoop wees.

God het ons egter nie in hierdie donker gelos nie. In sy groot genade het Hy self mens geword in Jesus Christus. Hy het ons swaarkry, siekte en dood kom deel. Deur sy opstanding het Hy die mag van sonde en dood gebreek. Blaise Pascal het gesê dat die wêreld sonder Christus in wanhoop sou verval – dit sou hel wees. Hans Küng skryf dat daar sonder Christus geen hoop, goeie nuus of kerke sou wees nie.

Deur Jesus het alles verander. Sy opstanding verkondig dat hierdie lewe nie die einde is nie. Ons het ’n lewende hoop en ewige lewe by God wat reeds nou begin. Wat Adam verloor het, het Christus deur genade herstel. Veroordeling is vervang deur vergifnis en dood deur lewe. Daarom het ons, deur Christus, ’n nuwe toekoms.


Genadige God, dankie vir U genade en vir die lewende hoop wat ons in Christus het. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-06-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer