Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Jesaja 54:1: “Jubel, onvrugbare vrou. . . want jy, verstote vrou, gaan nou meer kinders hê as een wat getroud is, sê die Here.”


John Westerhoff vra in sy boek Will Our Children Have Faith ’n belangrike vraag: Kan ons ons geloof aan die volgende geslag oordra? Met ander woorde, sal ons kinders nog in God glo omdat hulle sien wat ons vandag glo, leer en doen?

Die Ou Testamentiese geleerde Walter Brueggemann stel die vraag anders: “Sal ons geloof kinders hê?” Hy skuif die fokus. Dit gaan nie net daaroor of ons die geloof kan bewaar nie, maar of ons ons vir die onverwagte nuwe dade van God oopstel.

Brueggemann verwys na Bybelverhale van vroue soos Sara, Rebekka, Ragel en Hanna. Vir baie jare kon hulle nie kinders hê nie. Dit het onmoontlik gelyk. Tog het God vir hulle kinders gegee. Hierdie geboortes wys dat God ’n nuwe toekoms kan bring, selfs wanneer mense dink dit kan nie gebeur nie. 

Toe Israel in ballingskap was, het hulle ook moed verloor. Tog het God belowe dat daar weer groei en nuwe lewe sal wees. Hy het vir hulle gesê hulle moet hul tente groter maak om plek te maak vir wat kom (Jesaja 54:2,3).

Ons het ook so ’n nuwe toekoms nodig. Die vraag is: Vertrou ons God genoeg om dit te verwelkom? Vertrou ons God vir iets nuuts of vertrou ons op ons eie pogings?


Here, help ons om U te vertrou vir ’n nuwe toekoms wat U vir ons voorberei. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-03-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer