Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Eksodus 12:32: “Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan.”


God is geduldig. Farao is ’n voorbeeld van iemand wat God se genade weerstaan het. Hy was die koning van Egipte, ’n land vol afgode. Die Israeliete was slawe en hulle het die Here gedien. Vir Farao was die God van slawe onbelangrik: “Wie is die HERE dat ek na sy stem moet luister?” (5:2).

Toe sy towenaars die eerste tekens en plae namaak, het sy hart hard gebly. Hy het gedink hy is in beheer. Stap vir stap het die Here gewys dat Hy oor die natuur, oor lewe en oor dood heers. Farao moes besef dat daar niemand soos Hy op die hele aarde is nie (9:14). Met die laaste plaag, die dood van die eersgeborenes, het Farao vir Moses en Aäron laat roep en selfs gevra dat hulle vir hom moet bid (12:32). In sy pyn het hy besef hy het hulp nodig.

Farao se lewe waarsku ons om nie ons harte te verhard nie (Hebreërs 3:15). God reik vandag nog in genade uit. Jesus is die oorwinnaar oor sonde, dood en hel. Hy roep ons om Hom te volg terwyl daar tyd is. 

C.S. Lewis herinner ons aan God se geduld: “God fluister in ons vreugdes, praat in ons gewete, maar skree in ons pyn; dit is sy megafoon om ’n dowe wêreld wakker te maak.”


Genadige Vader, maak my ore oop wanneer U praat. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer