Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Romeine 12:10: “Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.”


In die wêreld is diens dikwels eensydig. Die onbelangrike dien die belangrike. In die Christelike gemeenskap is dit anders. Ons dien mekaar. Niemand is belangriker as ’n ander nie. Ons is een familie in Christus.

Paulus praat van opregte familieliefde in Romeine 12:10. Hy waarsku ons ook om nie te veel van onsself te dink nie (12:3). Alles wat ons het, kom van God. Hy het aan elke gelowige ’n “maat van geloof” en verskillende gawes gegee. Paulus skryf dat sommige die gawe het om te leer, ander om te dien, ander om te bemoedig, te lei of barmhartigheid te bewys (12:6-8). Elke gawe is belangrik. Geen gawe is klein nie.

Daar is nie ’n rangorde in die kerk nie. Ons word geroep om mekaar eerste te stel. Om iemand te eer, beteken om sy of haar waarde raak te sien en die genade te erken wat God aan daardie persoon gegee het. 

C.O. Buchanan sê gelowiges behoort aan mekaar soos dele van een liggaam. Ons verskil van mekaar, maar ons is een in Christus. As ons ons verskille én ons eenheid aanvaar, word ons aanbidding ryker, ons diens beter en ons liefde dieper.

Mag ons mekaar dien sonder om lof te soek, maar om Christus te weerspieël.


Here, leer my om ander te dien sodat U geëer sal word. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-03-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer