Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

1 Korintiërs 1:11-13: “Ek sê dit omdat mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. Daarmee bedoel ek dat die een sê: ‘Ek is vir Paulus,’ ’n ander: ‘Ek is vir Apollos,’ ’n ander: ‘Ek is vir Sefas,’ en nog een: ‘Ek is vir Christus.’ Is Christus dan in stukke verdeel?”


Iemand het gesê die wêreld sou lekker wees as daar nie ander mense was nie. Soms voel ons so. As ek alleen was, sou niemand met my verskil nie – geen konflikte of oorhaastige besluite nie. Tog, hoe leeg sou my lewe wees! Sonder ander mense sou ek nie groei in liefde, geduld of genade nie.

Die kerk in Korinte het met sonde, hofsake, jaloesie, trots en verdeeldheid gesukkel. Hulle het gestry oor leiers en geestelike gawes. Party het gesê: “Ek volg Paulus.” Ander het Petrus of Apollos gekies. Die liggaam van Christus is deur menslike lojaliteit uitmekaar geskeur.

Paulus vra: “Is Christus verdeeld?” Nee. Sy liggaam kan nie verdeel word nie. Wanneer ons van Hom af wegloop, klou ons aan mense vas in plaas van aan die Verlosser.

Laat ons onsself voor God ondersoek. Is ons kinders in die geloof? Stry ons? Bring ons verdeeldheid omdat mense ons fokus is?

Leiers is net dienaars. Een plant, ’n ander gee water, maar God laat dit groei. Wanneer ons mense verheerlik, wys dit hoe onvolwasse ons in ons lewe saam met God is. Wanneer ons ons oë op Christus hou, blom eenheid.


Here, leer ons om op U te fokus, nie op ons leiers nie. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer