Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Efesiërs 4:3: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.”
Deur die eeue bely ons dat ons aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk glo. Daar is net een kerk. Al sien ons baie denominasies, was verdeeldheid nooit die Here se plan nie. Ons sonde, ons hardkoppigheid en ons beperkte insig bring skeiding.
Paulus skryf aan gelowiges in Efese wat van mekaar verskil het. Jode en Grieke het mekaar nie altyd verstaan nie. Hulle gebruike en oortuigings was anders. Deur die bloed van Christus is hulle een gemaak. Dit is nie iets wat hulle self bewerk het nie. Dit is ’n gawe van die Gees. Kultuur, taal en ras kan dit nie breek nie. Daar is een liggaam, een Gees, een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal (4:4-6).
Dit beteken nie dat daar nooit verskille sal wees nie. Dit beteken ons moet hard werk om dit te bewaar. Paulus roep ons op tot nederigheid, vriendelikheid, liefde, vrede en geduld (4:2-3). Eenheid is ’n gawe en ’n opdrag. Ons moet leef volgens ons roeping in Christus.
C. E. B. Cranfield skryf: “Eenheid sal slegs bereik word wanneer Christene nederig is en genoeg durf het om die eenheid wat reeds in Christus tussen hulle bestaan, aan te gryp en dit bo hulle eie selfbelang te stel.”
Here, mag ons so leef dat die wêreld die eenheid in Christus in ons gemeente sal sien. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie