Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Efesiërs 2:14: “Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het.”
Die kerk is gebou op die fondament van die apostels en profete. Jesus Christus is self die hoeksteen (Efesiërs 2:20). Hy hou ons bymekaar en laat ons vasstaan.
Efesiërs 2 wys vir ons hoekom net Hy die hoeksteen kan wees. Ons was ver van God af. Ons was verlore en geestelik dood in ons sondes. Ons kon onsself nie lewend maak nie. God het in sy groot genade na ons toe uitgereik en ons gered (2:1-10). Deur Jesus se dood en opstanding het Hy mense wat geestelik dood was, lewend gemaak. Dié wat ver was, het nader gekom deur sy kosbare bloed (2:11-13).
Jesus het meer gedoen as om net die hemel vir ons oop te maak. Hy het ook een nuwe mensdom geskep. Hy het die mure afgebreek wat mense van mekaar geskei het. In Hom is ons nie meer vreemdelinge nie, maar familie. Ons het een Vader. Ons is een huisgesin en ’n heilige tempel waar God deur sy Gees woon (2:14-22).
Hierdie eenheid het Jesus alles gekos. Hy het sy lewe gegee om ons een te maak. Laat ons sy offer eer deur eenheid te soek, mekaar lief te hê en te leef soos mense wat saam met Hom opgewek is.
Here Jesus, dankie dat U ons een liggaam gemaak het deur U kosbare dood en opstanding. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie