Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Joh 17:23: “. . . sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.”


Stel jou voor jy kniel langs Jesus net voor sy laaste dae van swaarkry en sy dood. Hy bid vir sy dissipels wat Hy gaan agterlaat. Dan bid Hy ook vir die mense wat later hulle boodskap sal hoor en tot geloof sal kom. 

Luister mooi wat Hy bid. Hy vra dat almal wat in Hom glo, een sal wees. Hy bid nie vir ’n eenheid wat ons nie kan sien nie. Ja, dit is ’n diep geestelike eenheid, soos tussen ’n pa en sy seun. So beskryf Jesus sy band met sy Vader. 

Ons eenheid moet iets daarvan wys. Dit moet sigbaar wees. Hoekom? Want as die wêreld sien hoe gelowiges saamstaan en mekaar liefhet, sal hulle glo dat die Vader vir Jesus gestuur het. Hulle sal weet dat God sy mense liefhet.

In sy boek, The Mark of the Christian, skryf Francis Schaeffer: “Ons kan nie verwag dat die wêreld sal glo dat die Vader die Seun gestuur het, dat die aansprake van Jesus waar is en dat die Christendom die waarheid is as die wêreld nie iets van die realiteit van die eenheid van ware Christene sien nie.”

As jy daar langs Jesus kniel, sal jy met Hom stry oor hierdie gebed? Of klop jou hart saam met syne?


Here, ek wy myself vandag toe aan vrede en eenheid in U kerk. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer