Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
1 Johannes 3:23; 5:1: “En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê. . . Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ’n kind van God; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is.”
Die kerk wat deur die Gees en die Woord bymekaargebring word, staan op een fondament: Jesus Christus. Deur hierdie evangelie is ons God se kinders gemaak.
Tog dwaal ons maklik. Party mense wil net hê die kerk moet hulle behoeftes dien. Of dit die waarheid verkondig, maak vir hulle min saak. Solank hulle tevrede is, is alles reg. Ander sê hulle glo in Christus, maar die bloed in hulle are is vir hulle belangriker as Christus se reddende bloed. Hulle vergeet dat Hy die kerk met sy eie bloed gekoop het.
Johannes gee vir ons hierdie opdrag: Om in Christus te glo en lief te hê. Geloof en liefde is onskeibaar. Elkeen wat uit God gebore is, het een Vader. En as Hy ons Vader is, dan is elke gelowige ons broer en suster.
Flip Theron het geskryf dat God se genade verwoestend is. Dit breek ons trots, omdat ons almal uit genade gered word. Daarom staan ons gelyk voor Hom en voor mekaar.
Dit is nie ons bloed wat ons saambind nie, maar Christus se bloed. Laat ons saam rondom die kruis staan, een familie uit genade, en leer om lief te hê soos Hy ons liefhet.
Here, dankie vir die familie van die kerk. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie