Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Openbaring 21:4,5: Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
Wanneer jy in die spieël kyk, onthou: jy is deur God gemaak. Ons weet egter ook dat ons nie leef soos God dit van die begin af bedoel het nie.
JJ Buskes skryf dat daar eens ’n wêreld sonder lyding was. Daar was geen sonde of afstand tussen God en mense nie. Ons ongehoorsaamheid het daardie afstand gebring.
Net God se genade kon dit regmaak. Daarom moes God iets nuuts doen. Hy het dit deur Jesus gedoen. Deur Jesus het God na die wêreld wat Hom verwerp het, gekom.
Jesus het ook omgegee vir mense wat swaar gekry het – dié wat deur die samelewing en die gebrokenheid van die wêreld seergemaak is. Hy het langs blindes, kreupeles, vroue en kinders gestaan.
Die Bybel praat van ’n nuwe wêreld wat kom. Nou is daar trane. Dan sal daar geen trane wees nie. Nou sterf ons. Dan sal daar geen dood wees nie. Dan sal ons nie meer ver van God af wees nie. Wanneer sonde verdwyn, sal lyding ook verdwyn. So sal God se plan uiteindelik vervul word: ’n Wêreld wat heeltemal met sy teenwoordigheid gevul is.
Vader, dankie vir die sekerheid van ’n nuwe hemel en aarde by U, deur Jesus, ons Here. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie