Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Matteus 21:14,15: “Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: ‘Prys die Seun van Dawid!’ was hulle verontwaardig.

 

Matteus se Evangelie wys vir ons dat Jesus nuut bepaal wie by God behoort. Van die begin af word buitestanders ingesluit, selfs in Jesus se geslagsregister. Ná die opstanding is dit vroue wat eerste getuig. Die blindes herken Jesus wanneer ander dit nie doen nie. En hier, in die tempel, sien ons dieselfde patroon.

Blindes en kreupeles is as onwaardig vir aanbidding beskou. Vir lank is die Skrif misbruik om hulle uit te sluit (2 Samuel 5:8). Wanneer Jesus die tempel binnegaan, genees Hy die blindes en die kreupeles daar en dan. Alles verander. Deur dit juis in die tempel te doen, wys Jesus dat Hy groter is as die tempel. Die tempel word ’n plek van herstel, nie uitsluiting nie.

Dan praat die kinders. Hulle stemme, wat gewoonlik geïgnoreer is, vul die tempel met lof: “Prys die Seun van Dawid!” Die leiers is ontsteld, maar Jesus haal die Skrif aan om te bevestig wie Hy is: “U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing” (Psalm 8).

In Jesus se teenwoordigheid word God se mense herdefinieer. Die uitgeslotenes word verwelkom. Die gebrokenes word herstel. Die kleintjies en geringes prys God vrymoedig.

 

Here, ek loof U dat U my ook in u koninkryk ingesluit het. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer