Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Galasiërs 2:19,20: “. . . ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”
Ons ken onsself beter as enigiemand anders. Ons weet wat ons sterkpunte is, maar ook waar ons swak is. Soms hou ons onsself vir die gek en dink ons is beter as wat ons regtig is. As ons eerlik is, sien ons egter die foute in ons karakter. In plaas daarvan om dit te erken, probeer ons dit wegsteek deur voor te gee ons is iemand anders. Dit lei tot skynheiligheid en selfmisleiding.
Abraham Lincoln het een keer gesê: “Karakter is soos ’n boom en reputasie soos sy skaduwee. Die skaduwee is wat mense sien; die boom is die werklikheid.”
Te dikwels pas die skaduwee wat ander sien nie by die ware toestand van ons karakter nie.
God sien egter alles. Die psalmdigter herinner ons daaraan dat God ons volkome ken (Ps. 139). Niks van ons lewe is vir Hom weggesteek nie. God se begeerte is dat ons reputasie by ons karakter sal pas, sodat mense die ware ons ontmoet. ’n Gesonde boom gee ’n goeie skaduwee.
Paulus sê hy het aan homself gesterf en dat Christus nou in hom leef. Ons ware karakter word gevorm wanneer God ons ons harte, gedagtes en denke verander. Dink net watter verskil dit sal maak in ons huise, werkplekke en gemeenskappe as mense iets van Christus se genade en karakter in ons ervaar.
Here, U woon in my. Laat elkeen wat my ontmoet iets van U ervaar. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie