Briewe wat ek nooit gestuur het nie
Liewe Ma
Ek het hierdie brief nooit gestuur nie, want elke keer as ek probeer dankie sê, klink dit te min.
So maak ek ’n grappie, of ek verander die onderwerp, of ek sê dit vinnig tussenin voordat iemand agterkom ek raak emosioneel.
Maar daar is klomp dinge wat ek vir Ma wil sê.
Ek dink nie ek het altyd besef hoe sterk jy is nie. Toe ek jonger was, het dit net normaal gevoel. Dis eers later wat ’n mens kyk na alles wat ’n ma dra – die lang dae, die bekommernisse wat niemand raaksien nie, die manier waarop jy altyd seker maak almal anders is oukei voordat jy aan jouself dink.
Jy het dit altyd laat lyk asof dit maklik is.
Jy is sag op ’n manier wat nie swak is nie. Jy is beskermend sonder om mense vas te hou. En wanneer dit by jou kinders kom, verander jy in iets heeltemal anders, soos ’n mamma-leeu. Ek het al gesien hoe jy mense se nonsens stil en vinnig hanteer wanneer dit by ons kom. Nie dramaties nie. Net ferm, soos iemand wat presies weet waar haar grense lê.
Dit het my lank geneem om te besef hoeveel sekuriteit dit vir ’n kind gee.
Daar was tye wat ek seker nie die maklikste kind was nie. Tye toe ek my eie pad wou loop, selfs wanneer dit jou waarskynlik baie bang gemaak het. Ek het planne verander, drome verander, rigtings verander. En tog het jy nooit opgehou om agter my te staan nie, selfs wanneer jy dalk nie heeltemal verstaan het nie.
Ek dink nie ek sê dit genoeg nie: Dankie. Dankie vir al die klein dingetjies wat niemand regtig raaksien nie. Vir die manier waarop jy altyd ’n tuiste gemaak het uit waar ons ook al was. Vir die dae wat jy moeg was, maar steeds aangehou het. Vir die kere wat jy vir ons baklei het, selfs wanneer ons dit nie eens besef het nie.
Daar is ook dinge wat ek eers nou begin verstaan. Dat ma’s ook maar net mense is. Dat jy ook seker dae gehad het waar jy gewonder het of jy dit reg doen. Of jy genoeg is. Of ons eendag sou sien hoeveel jy probeer het.
Ek sien dit nou.
Ek sien die sterkte.
Ek sien die sagtheid.
Ek sien die beskerming.
En al sê ek dit nie altyd nie, ek dra baie van wie jy is saam met my. In hoe ek vir mense omgee. In hoe ek opstaan wanneer iets moeilik raak. In hoe ek glo familie is iets waarvoor jy veg.
Hierdie brief gaan waarskynlik nie gestuur word nie. Want volgende keer as ek by jou is, gaan ons weer oor gewone dinge praat. Oor werk, oor kos, oor wie weer iets snaaks gesê het.
Maar net vir die rekord: Dankie dat jy my eerste voorbeeld was van hoe sterk en sag ’n mens terselfdertyd kan wees. En dankie dat jy altyd die mamma-leeu was, selfs wanneer ek nie besef het ek het beskerming nodig gehad nie.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie