Briewe wat ek nooit gestuur het nie
Liewe jy
Ek het hierdie brief nooit gestuur nie, want elke keer as ek probeer sê hoe ek regtig voel, maak ek ’n grap of verander die onderwerp.
Dis makliker om te lag as om sag te wees.
Ek dink terug aan daardie klaskamer vol chaos, die plek waar alles gebars het en ons al twee moes aanhou.
Ek as jou assistent, jy wat alles moes dra. Ons het mekaar regop gehou, net so, sonder groot woorde, net daar – elke dag. Ek dink dit is hoekom ek altyd op jou kan staatmaak, selfs sonder dat jy iets sê. Jy was altyd net daar, soos ’n konstante wat mens nie kan ignoreer nie.
Jy is sterk. Nie die soort sterk wat aandag soek of altyd spiere wys nie. Stil sterk. Jy vreet nie nonsens van ander mense op nie. Jy buig nie voor ander se verwagtinge nie. Jy is wie jy is, en dit werk.
Dis moeilik om te verduidelik hoe dit voel om iemand te hê wat so ferm is sonder om hard te wees. Jy laat alles net werk sonder dat jy dit forseer.
Ek onthou die dag toe ek vir jou gesê het ek gaan alles los en ’n joernalis word. Ek het bang gevoel, onseker, en jy het net geweet. Geen vrae nie. Geen twyfel nie. Net daar, ondersteunend sonder oordeel. Jy laat jou teenwoordigheid genoeg voel.
Mense sê altyd ons lyk soos sussies. Dis nie net ons ooreenkomste nie, dis hoe chaoties ons is, hoe alles teen mekaar bots en tog werk. Ons kan ’n kamer binnestap en dit voel soos ’n ander soort energie – onstuimig, lawaaierig, laggend.
En tog, in al daai chaos, hou jy my geanker. Jy is altyd daar, selfs wanneer ek verdwyn. Jy raak nie kwaad as ek nie reageer nie. Jy wag stil, jy gee ruimte sonder om ooit weg te wees.
Ek dink dikwels aan die sonneblomteorie wanneer ek aan jou dink. In helder dae draai ons na die son. Maar op donker dae draai sonneblomme na mekaar. Ek dink dis ons. Nie om mekaar te red nie, net om mekaar aan die lig te herinner.
Jy maak dit moontlik om die lig te voel, selfs wanneer alles anders donker voel. Jy is nie net ’n vriendin nie – jy is ’n soort veilige plek, ’n anker, ’n herinnering dat dinge altyd weer regkom.
Ek onthou hoe ons saam huil, lag, en net oor niks praat totdat dit weer lyk asof alles weer sin maak. Hoe jy stil luister wanneer ek te veel praat en hoe jy lag wanneer ek te veel probeer wees.
Hoe jy altyd weet wanneer ek ruimte nodig het, en hoe jy nooit eensaamheid as ’n wapen gebruik nie. Jy is so ’n skaars en kosbare kombinasie van teenwoordigheid en ruimte, en dit werk perfek.
Ek is trots op jou. Ek respekteer jou. Ek voel veilig by jou. Ek is lief vir jou. Dit is nie groot gebare nie, net teenwoordigheid. Net weer en weer. Jy maak die wêreld stadig maar seker beter deur net te wees. Jy laat mens dink: Dis moontlik om so te wees sonder om te breek, sonder om iets te verloor.
Ek sal waarskynlik weer ’n grap maak as ons praat oor “daai berig oor jou in die koerant”. Maar net vir die rekord: Jy is my rots, ’n lig, ’n sonneblom. En ek’s bly jy’s my sussie sonder dat bloed dit afgedwing het.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie