Annemarie du Toit
Annemarie du Toit

Briewe wat ek nooit gestuur het nie

Sê maar net
Sê maar net
Annemarie du Toit

Liewe kleinsus

Ek het hierdie brief nooit gestuur nie, want toe jy jou tasse vir universiteit gepak het, het ek gemaak asof dit net nog ’n Maandag is. 

As ek te lank daaroor gedink het, sou ek begin huil het oor goed soos jou leë kamer en wie nou die laaste “oats bar” gaan eet. Dis nie dramaties nie. Dis net waar.

Ek moet eers dit sê: Ek weet jy dink jy is gereed. Jy is. Maar jy’s ook glad nie. Albei dinge kan waar wees. 

Jy gaan vergeet om jou wasgoed betyds te was, jy gaan dink twee-minuut-noedels tel as ’n ete en jy gaan Ma ten minste een keer bel oor iets wat jy maklik self kon gegoogle het. Dis deel van die ervaring. Geniet dit. Universiteit gaan jou ongelooflik slim en soms heeltemal dom laat voel – alles op een slag. 

Jy gaan mense ontmoet wat klink asof hulle alles onder die knie het en die lewe “uitgefigure”  het. Hulle het nie. Hulle jok net beter. Moenie jou waarde meet aan wie die hardste praat of die vinnigste hardloop nie. Jy loop jou eie spoed. Jy het nog altyd.

Ek wens iemand het my vroeër gesê dat grootword nie beteken dat jy minder bang word nie, jy raak net meer gewoond daaraan om bang te wees en steeds aan te gaan. Jy gaan foute maak. 

Jy gaan dalk iets studeer en later dink: “Hmm, miskien nie.” Dis nie mislukking nie. Dis leer. Dis groei. Dis jy wat nie vashaak waar jy nie hoort nie.

Hier is die ernstige deel (ek belowe dis nie lank nie): Moenie jouself kleiner maak om in plekke in te pas wat jou nie raaksien nie. Moenie jou drome verdedig omdat mense dink dis ’n grap nie. 

En asseblief, asseblief moenie dink jy moet eers “genoeg” wees voordat jy meer mag wil hê nie. Jy was nog altyd genoeg. Die wêreld het net nie altyd vinnig genoeg by jou uitgekom nie.

Ek gaan jou op dom maniere mis. Soos om jou in die gang te hoor lag. Of om iemand te hê wat my binne twee sekondes kan lees. Maar ek is ook trots op ’n manier wat ek nie heeltemal kan verduidelik nie. Jy gaan weg, ja  maar jy gaan ook “word”.

Wanneer dit moeilik raak, onthou: Jy mag huis toe kom. Jy mag rus. Jy mag weer probeer. Jy hoef niks te bewys deur uit te brand nie.

En as alles te veel raak – die werk, die mense, die vrae oor jou toekoms – onthou, ek is net ’n WhatsApp-boodskap weg. Al sê dit net: “Ek’s moeg.” Ek sal verstaan.

Ek het nie hierdie brief gestuur toe jy weg is nie, want ek wou hê jy moet eers self ontdek hoe sterk jy is. Maar nou sê ek dit: Die wêreld behoort aan diegene wat daarna smag, en jy, my klein sussie, was nog nooit met min tevrede nie.

Gaan vat jou plek.
Ek is hier. Altyd.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-02-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer