Briewe uit die hemel

Sê maar net
Adéle van Niekerk

Daar is ’n spesifieke soort stilte wat in ’n mens se hart kom woon wanneer die wêreld binne 30 dae onherkenbaar verander. 

Om albei jou ouers binne ’n enkele maand te verloor, is om jou ankers in ’n storm te verloor, maar wanneer daardie eerste verlies op jou eie verjaarsdag kom, verander jou lewe in ’n wildernis sonder kaart of kompas. Dis dan wat ek in die skemerure van verlange, myself verbeel daar land twee briewe uit die hemel op die drumpel van my hart.

“Hallo my skat, die eerste stem wat jy hoor is myne, jou ma s’n. Ek weet die skok van my vertrek op jou verjaarsdag voel vir jou soos ’n onregverdigheid wat nie genees kan word nie. In een oomblik was ek nog daar, gesond en dankbaar vir die lewe, en in die volgende oomblik was ek omring deur ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Moenie na daardie datum kyk as die dag waarop ek jou verlaat het nie, kyk daarna as die dag waarop ons siele vir ewig aanmekaar vasgebind is. Jy was vir my soveel meer as net ’n dogter – jy was my beste vriendin. Daardie tye van saam tee drink, waar ons ons harte met mekaar kon deel, die warmte van die koppie tussen ons hande en die gelag tot ons trane loop – dit is waar ek steeds vir jou wag. Elke keer as jy die ketel aanskakel, sit ek oorkant jou. Daardie vriendskap en vreugde is die werklike geskenk wat ek agtergelaat het. Ek het vooruitgegaan om die lig aan te steek, maar ek het ook gewag. Ek het my hand uitgesteek na Pappa, want ek het gesien sy siel en hart was aan flarde.”

“Hallo my engel, ek weet jy dra ’n gewig wat geen kind behoort te dra nie, en dat my besluit om so gou ná Mamma te gaan, vir jou soos ’n tweede storm gevoel het. Ek smeek jou, laat die skuldgevoelens gaan. Daar was niks wat jy kon doen om die donker te verdryf wat oor my neergedaal het toe Mamma so onverwags op jou spesiale dag weg is nie. Die lewe sonder haar was vir my ’n pad wat ek nie meer wou stap nie, en die verlange was ’n seer wat ek nie meer wou dra nie. My hele wese het na Mamma gesmag. Maar my kind, moenie my onthou vir die donkerte van daardie laaste maand nie. Onthou my eerder waar ons saam by Henties se Visfees op die tafels gedans het. Onthou hoe ons die wêreld se sorge vergeet het terwyl Kurt Darren se “Loslappie” deur die tent weerklink het, en ons net kon vry wees en lag. Daardie lewenslus en daardie oomblikke van pure pret – dit is wie ek werklik is. Hier in die lig is daardie energie weer terug. Die depressie het soos rook verdwyn. Ek en Mamma is nou saam, verweef in ’n liefde wat selfs die dood nie kon skei nie. Ons dans weer saam terwyl ons oor jou waak. Elke keer as jou verjaarsdag aanbreek, moet jy weet dat dit nie net ’n dag van hartseer is nie, maar ’n dag van oorwinning, want jy dra ons albei se krag in jou. Ons koebaai is nie die einde nie. Wanneer jy die son op jou gesig voel, is dit Mamma se drukkie. Wanneer jy ’n liedjie op die radio hoor wat jou laat glimlag, is dit ek wat jou herinner om weer te dans. Ons wag vir jou, maar met die opdrag dat jy eers elke bladsy van jou eie pragtige storie voluit moet klaarskryf. Ons is lief vir jou. Jy is vir ewig ons grootste trots.”

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-06-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer