Briewe uit die binneland – Woordeboek van Afrikaans Vandag
Liewe Genoot
As ’n mens kyk na al die skommelinge wat Nederlands ondergaan het vanaf die jaar 500, is dit g’n wonder dat dieselfde met Afrikaans gebeur nie.
Oudnederlands word Middelnederlands, wat teen 1500 oorgaan in Nieuwnederlands – waaruit Afrikaans ontstaan. Nederlands is beïnvloed deur Engels, Fries, Duits, Luxemburgs, Latyn en Frans. Die tale wat Afrikaans beïnvloed het, naas Nederlands, is o.a. die Khoisan-tale, Maleisies, Indonesies, en Portugees. Maar die grootste beïnvloeding vandag kom vanaf Engels.
Die redes is nie slegs polities van aard nie. Behalwe dat Afrikaans en Engels albei Germaanse tale is, het beide tale vanaf die 1900’s steeds ryklik uit Romaanse tale geleen wat ook sekere ooreenkomste meebring.
Genoot, ek voel sterk daaroor dat taalverandering nie gelyk gestel word aan taalkorrupsie nie. Ek is ontsettend teleurgestel dat die hoofstroom Suid-Afrikaanse universiteite Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf het. Om een van die omgangstale van ’n land so te kniehalter, is stompsinnig, en wys ’n vinger na dié universiteite wat nie vinnig genoeg aanpas by ’n veranderende wêreld nie.
Klaar baklei.
Ek het verlede week gevra dat lesers vir my sal laat weet as hulle nuwe inkommers raakloop. So het cool my bereik. Behorende tot die generasie oumas en oupas krap die woord effe aan my.
In Woordeboek van Afrikaans Vandag (van nou af kortliks WAV) onder redaksie van Jana Luther vind ek die volgende: koel b.nw. so koel soos kruisement; baie koel en/of kalm: “Nou verskyn die kolonel op die toneel ... so koel soos kruisement” (Vrye Weekblad, 5 Mei 2023).
Genoot, ek hoor jou. Hier word dit ietsie anders gebruik as die frekwente “Dis cool!” wat fantasties beteken. Maar daar is tog ’n nuanseraakpunt tussen dié twee gebruike, naamlik goed; onder beheer. Ek hou van die feit dat die WAV die Afrikaanse spelling handhaaf.
Ook chill vind daar neerslag: ww. | het gechill | Ook (minder gebruiklik) tjil | het getjil.
“By die vakansieoord sal sy eers chill, aan haar tan werk, en met hernieude ywer die jaar aanpak” (Huisgenoot, Malene Breytenbach, 20 Mei 2022).
Maar my vraag is of die Afrikaanse spelling hier sal werk, want as ek tjil sien, moet ek eers twee keer lees om seker te maak ek verstaan dit reg.
Genoot, maar ek daag jou uit om die volgende WAV-trefwoord met die eerste kyk te verklaar: uitfigure. Toe ek dít sien, vermoed ek dat ’n variant vir randfigure (Eng: outsiders) hier opgedis word. Maar ver daarvandaan! Dis toe hoeka ’n werkwoord: uitfigure; figure uit | het uitgefigure | (via Engels, informeel) uitwerk; uitpluis.
Heelwat gebruiksvoorbeelde word gegee waarvan die vroegste uit die vorige millenieum kom: “Ons kon nie uitfigure wie saam met wie slaap nie, so julle moet dit maar self uitbaklei” (Marita van der Vyver, Wegkomkans, 1999); “Toe my ma-hulle my vra wat ek wil doen, toe probeer ek uitfigure wat hulle die meeste sal uitfreak” (Tinus Horn, Droster, 1997).
Ek stem nie saam met die spelling van die uitroep nottendêm (sinoniem nottenwiel) wat in die WAV aangegee word nie. Ek sal meer tuis voel met nottedêm (en nottewiel) om die eenvoudige rede dat ek nie die n hoor as die woord uitgespreek word nie.
Dat Namibië ook haar invloed uitoefen, blyk uit die feit dat namibifiseer ook die WAV haal: namibifiseer ww. | het namibifiseer | [soms met hoofletter] maak/word soos in Namibië; namibifisering: “’n poging om voorheen benadeelde Namibiërs deur die Namibifisering van mariene hulpbronne te bemagtig deur plaaslike eienaarskap en deelname” (John Grobler, Vrye Weekblad, 14 Februarie 2020).
Genoot, ek sê nou vir jou: nottewiel gaan Afrikaans oor vyftig jaar lyk soos sy vandag lyk nie. Sy gaan lyk soos die tieners hulle vandag praat. Tjek my yt!
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie