• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Briewe uit die binneland – Waar pas ek in, indien ooit iewers
Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Waar pas ek in, indien ooit iewers

Chrisna Beuke-Muir

Liewe Genoot  

My ma het nie van alles gehou wat ek geskryf het nie. Sy was ’n bietjie bly dat ek geskryf het, maar wou dat ek meer agting sou hê vir die bestaande tradisies en fyner op papier moes trap oor hoe ek voel. 

Gister kom ek weer af op die boek, Women who run with the wolves van die Meksikaanse skryfster, dr. Clarissa Pinkola Estés wat ek destyds gelees het kort nadat dit in 1992 verskyn het. 

Ek blaai weer daardeur en kyk na dit wat ek onderstreep het. Daar was baie. Ek haak vas by één frase: To break free from the cages of perfection and reclaim her instinct, her intuition, her deep feminine knowing. En ek onthou wat dit vir my as huiwerige woordmesselaar beteken het.

Skryf veroorsaak vir my soms ontsettende ongemak. En hoe meer jaarringe ek aan my boomstam ervaar, hoe ongemakliker (enersyds), maar meer noodsaaklik (andersyds) word dit. Soms – soos in ’n droom – is daar momente waarop ek vlieg. Maar meer dikwels is dit ’n ongelyk pad. 

Maar loop, moet ek loop. 

Want as ek bly, is dit verby. 

I’m a poet and I don’t know’t! 

Genoot, toe ek as jong student my in die literatuur begin bekwaam het, het Kannemeyer en Opperman by wie ek klas geloop het, geglo dat wanneer ’n jong skrywer (soos byvoorbeeld Krog wat destyds die gedig “Ma” geskryf het) kreatief begin skryf, dit gedoen behoort te word teen die agtergrond van die tradisie van skrywers wat haar voorgegaan het. En dat geen nuwe skrywer op haar eie gelees kan word nie, maar bloot ’n chronologiese opeenvolging word van oorsaak en effek.  

Maar tog was daar iets meer as dit, ’n mens wou ook iets anders doen. Soos om jou produk by die behoeftes van die hede aan te pas. Soos wat Krog gedoen het. 

Ek vergelyk die inhoudsopgawes van Groot Verseboek via Prof Google: slegs vier vrouedigters (uit ’n totaal van 43) se werk was belangrik genoeg geag om in die 1968-uitgawe opgeneem te word. (Hulle was Elisabeth Eybers, Olga Kirsch, Ina Rousseau en Sheila Cussons.) In die 1975-uitgawe, destyds een van my voorgeskrewe werke as student onder my mentors Opperman, Spies en Van Wyk Louw op Stellenbosch, maak 12 vrouedigters uit ’n totaal van 85 dit. 

In die nuutste uitgawe wat ek op mý rak het, het 35 vrouedigters uit die totaal van 171 dit gemaak. Die inhoudsopgawe van die drie dele waarin Groot Verseboek wat in 2008 verskyn het, het ek hier oorgeslaan, en gespring na die korter 2024-weergawe wat ek op Amazon se webblad vind. Ek vermoed dat dit as ’n tipe Deel 4 sou kon dien, maar dat die samesteller, Marsofine Krynauw in samewerking met Malherbe Uitgewers, dit goed gedink het om weg te breek van die sg. deel-stelsel en ’n heel nuwe titel, “Die Nuwe Era Groot Verseboek 2024”, te gebruik. Hoewel ek slegs gedeeltes van die publikasie op die Amazon-webtuiste kon bekyk, vind ek 44 digters in die inhoudsopgawe waarvan ’n hele 28 vrouedigters is!

Destyds toe ek die podiumstuk, Dawid Klong van God saamgestel het, en saam met prof. Aldo Behrens en Danie Strydom gespeel het, het ek ’n paar gedigte geskryf wat my jongste seun in die tussentyd getoonset het. En ’n week of wat gelede het ek en hy dit as deel van ’n podiumproduksie, Doepa vir die Droefte, in Swakopmund gedoen. En watter voorreg was dit nie. 

In retrospeksie is ek dankbaar dat ek die verwaandheid gehad het om dit wat ek ’n stuk of 10 jaar gelede neergeskryf het, saam met my kind op te voer. Behorende tot die vroulike geslag gebore tussen 1950 en 1960, kos dit vir my waagmoed om so voor oppie-pram te wees om te glo in my eie kreatiwiteit, buiten dié van moederskap waarvoor ek biologies geskep is. 

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-07-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer