Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Tarentaal se lang geskiedenis

Chrisna Beuke-Muir

Liewe Genoot

Een van die interessantste velde van die taalkunde bly maar vir my die etimologie wat handel oor die geskiedenis van woorde. 

Behalwe dat dit bv. op die oorsprong van ’n woord ingaan, neem dit jou dikwels ook deur die evolusiestappe wat die woord ondergaan het. 

Neem nou die woord tarentaal, wat verwys na ons bekende gevleuelde, gespikkelde dier wat ons omtrent elke dag sien. En sou hy of sy jou motor tref, of anders gestel, sou jy en jou ryding hierdie dier se pad onverwags betree, weet jy daarvan, want dit veroorsaak skade na weerskante toe. Die arme dier boet met haar lewe en jy moet die skade aan jou buffer laat herstel.

Waar ek op Bredasdorp in die Rûensveld grootgeword het, het my pa dikwels gepraat van ’n polieshoender, ’n substandaardvariëteit – met die klem op die tweede lettergreep. Die blou keppie op die voël se kop met die harde horinkie het mens mos laat dink aan die spietkop wat agter die boom uitspring as jy te vinnig gery het. 

’n Paar jaar later op Stellenbosch het ek in my eerste jaar die volgende interessante uitleg gekry in ’n lesing oor die etimologie: een van die heel eerste variante, nl. terra Nataalsche vogel is uiteraard van Nederlands afkomstig, die terra, hier in sy betekenis, land. Later het dit ternataalsche vogel geword. Nie lank daarna nie word dit “tarnetaal” en ook “tarmetaal”, en uiteindelik vind ontronding plaas ter wille van die uitspraak en vandag gebruik ons tarentaal

Genoot, wie sou nou kon dink dat die tarentaal eerste in Natal opgemerk is, en nie in ons eie Namibië nie! 

En dan is daar ook nog verdere sinonieme wat ek uit my kinderdae leer ken het, soos poelpetater. En van my pa het ek verstaan dat my oupa ook poelmetaat, en poelmetaan gebruik het. In Nederlands is ’n tarentaal ’n parelhoender. Parel is die Nederlands vir ons Afrikaanse pêrel, en dit sou kon verwys na die kenmerkende wit spikkels op die vere. 

Verdere etimologiese bronne bring ook Frans en Portugees by. Die poel-gedeelte van poelpetater sou afgelei kon gewees het van die Franse poulet wat hoender beteken, tewyl die petater-gedeelte toegeskryf sou kon word aan die Portugese woord pintade wat gespikkeld beteken: gespikkelde hoender! 

Interessant is ook dat historiese bronne Tarentaal as ’n van (Nederlands: achternaam) benoem wat prominent dui op voorsate uit Europa:  

– Lisa en meneer Tarentaal genoten (Afr.: het ... geniet) van een romantische zonsondergang aan de kust van Zeeland ... 

– Mev Tarentaal boekte een onvergetelijke reis naar de betoverende fjorden van Noorwegen ... 

– Pieter Tarentaal bezocht Afr.: het ... besoek) de  historische grachten van Amsterdam met zijn ouders ...

– Opa Ben Tarentaal vertelde spannende verhalen over zijn jeugd in Drenthe ... 

– Emma, geef Tarentaal die nieuwe roman over Rome als verjaardagscadeau ... (cadeau is die Nederlands vir geskenk).

– Samen met Tarentaal verkende ik de pittoreske straatjes van Sintra, Portugal ...

Liewe Lesers, dankie vir julle terugvoer i.v.m. my navrae oor die vorige twee weke se skrywes: Clem Marais gee terugvoer oor die gebruik van sib/sibbe na aanleiding van die Engelse sibling/siblings

“Die enkelvoud is sib en meervoud sibbe. Maatskaplike Werkers sal byvoorbeeld in ’n afkoms-verslag van ’n wetsbestede kind skryf: Daar is nog 3 sibbe in die huis. Of ek sal sê: Ná my enigste sus se dood, het ek nou geen sib meer oor nie.”

I.v.m. my navraag (twee weke gelede) oor ’n Afrikaanse variant vir bachelor’s, gee Henriëtte van Wyk die woord ramparty, en voeg by, “ram soos teenoor ooi” en nie soos ram wat lekkermaaksous beteken nie (lg. is my byvoeging).

Genoot, en nou het ek nóg twee vrae aan jou. 

1) Dink jy tarentaal het nou aan die einde van sy evolusiefase gekom? 

2) Dink jy die uitspraak van die party in ramparty sal verander na paartie, of sal dit die ou uitspraak behou?

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-02-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer