Briewe uit die binneland – Taalkodes
Liewe Genoot
Wat wás God se eintlike doel met die verwarring wat ontstaan het toe die bouwerk aan die toring van Babel op ’n dag tot stilstand geruk is? Toe die ingenieur sy boukontrakteur op die terrein besoek, en hulle mekaar glad nie kon verstaan nie? Toe die messelaar vir die handlanger vir ’n passer vra het dié toe hom die troffel aangee?
Sou dit wees dat God die mensdom teen homself wou beskerm omdat Hy geweet het dat ons nooit die toring so hoog sou kon bou dat dit die hemel sou kon raak nie? Of dat God die uitroei van die aarde se natuurlike hulpbronne daar wou beskerm?
Of sou dit kon wees omdat God geweet het dat Hy ons brein toegerus het met die vermoëns om taalkodes te gebruik om met mekaar te kommunikeer?
In vier Germaanse tale naamlik Afrikaans, Nederlands, Duits en Deens vergelyk ek toe voorbeeldsinne met die uitdrukkings hou van/ hou daarvan, om te, asook lief vir.
VERWYS NA AANGEHEGTE TABEL.
Een van die eerste dinge wat my opgeval het, is dat hou van in Deens DRIE woorde vereis: kan godt lide, en nie twee soos in Afrikaans nie. Interessant is ook dat die Afrikaanse infinitief-konstruksie om te ook in Deens neerslag vind (net soos in Eng., to sing), maar dat dit in Nederlands en Duits eerder veronderstel word, en nie d.m.v. woordtekens uitgedruk word nie. In Nederlands en Duits word die betekenis van die werkwoordkonstruksie hou daarvan of hou van bewerkstellig deurdat die beskrywende woord graag (Ndl.) en gerne (Duits) gebruik word. En tog vind ons dat Nederlands en Duits nader aan Afrikaans is as Deens.
Oor die Afrikaanse infinitief-konstruksie om te (sinne 1 tot 3): ook hier blyk Deens nader aan Afrikaans te wees as Nederlands en Duits. Deens gebruik die woord at vir ons om te, terwyl woordtekens vir hierdie konstruksie in die Nederlandse en Duitse ekwivalente ontbreek.
Wat lief vir betref, blyk Duits en Deens nader aan mekaar te wees deurdat beide die tale slegs een werkwoord gebruik – onderskeidelik liebe en elkser – terwyl Afrikaans en Nederlands ’n ekstra voorsetsel nodig het – onderskeidelik vir en van. In Nederlands beteken ik hou van je dieselfde as die Afrikaanse liefdesverklaring ek het jou lief.
En Genoot, en kyk ’n bietjie wat gebeur met die uitdrukking om uit volle bors te sing: Nederlanders en Afrikaanssprekendes sing uit die bors uit, die Duitsers uit hulle Kehle, en die Dene uit die hals uit!
Ek sou so ontsettend graag wou geweet het wat God gedink het toe Hy die appelkar by Babel omgekeer het. Die Nederlander, Huub Oosterhuis (1968) skryf oor God se taal as “een tweede taal” teenoor die mens se sogenaamde eerstetaal of moedertaal: “diep onder de eerste, als een veel oudere aardlaag, ook tweede in aandacht en waardering; en ook weerlozer en bescheidener dan de eerste. De taal van wat eigenlijk niet te zeggen is. Een taal die zich niet opdringt, maar wel spreekt met gezag”.
Genoot, sou ons menstaal ooit kon ontwikkel om die Groot Energie se doentaal te kon verwoord? Miskien eendag? Hierná? Van aangesig tot aangesig?


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie