Briewe uit die binneland – Skrywerscafé – Authors Cafe (deel 2)
Liewe Genoot
Verlede week het ek gesels oor die werkswinkel wat ek bygewoon het, en van al die nuwe dinge wat ek geleer en gehoor het. Dinge wat vir Namibiërs met ’n kreatiewe streep tog belangrik is.
Nelao Books, gesetel in Duitsland, is die uitgewer wat die werkswinkel geïnisieer het, en wat stewige bande met Namibië het. Op hul webblad stel hulle hul ten doel om stories oor Namibië en deur Namibiërs te publiseer. Uit die bydrae van Samuel Mayinoti het ek die indruk gekry dat, afgesien van die fokus op die landskap, die skoolkurrikula prioriteit geniet. Ek neem aan dat hierdie skoolboeke hoofsaaklik in Engels gepubliseer is, en dat Nelao Books hulle nie toespits op die uitgee van Afrikaanse boeke per se nie.
Gaan soek ’n mens op die internet na Namibiese uitgewers, kry jy bv. Zebra Publishing wat fokus op opvoedkundige boeke, en Namibia Publishing House, wat deel is van Macmillan Education Namibia. Waarvan ek wel bewus geword het (en wat ook tydens die werkswinkel genoem is), is dat die instansie, Namibia Book Market, as ’n sentrale afsetgebied dien. Op hul webblad lees ek o.a. “Books From & About Namibia”, en uitgebreide inligting van belang vir die algemene lesersmark van Namibië word gegee. Die boeke word in en buite Namibië gepubliseer en uitgegee deur ’n aantal kleiner instansies. Genoot, as jy ’n idee wil kry oor Namibiese materiaal wat reeds verskyn het, is dit die ideale plek om te loop soek.
In Mayinoti se praatjie het die aspek van spookskrywery ook ter sprake gekom. ’n Spookskrywer is iemand wat betaal word om ’n ánder (gewoonlik bekende of beroemde) persoon se lewe te beskryf, maar dan verskyn dit onder die ander persoon se naam, en die spookskrywer kry nie krediet as outeur nie. En toe wonder ek mos hoeka of ChatGPT tegnies ook sou kon deurgaan as ’n spookskrywer. Hoe goed hy is, hang seker af van hoe duur jy vir die toepie betaal.
Die term bibliofiel (Eng: bibliophile), wat boekliefhebber of -versamelaar beteken, is ook genoem. Hierdie benaming val nie vir my lekker op die oor nie, want een van die min ander persoonsname wat op ’n -fiel eindig, wil ek – anders as boeke – nie naby my kleinkinders toelaat nie. Die agtervoegsel laat ’n negatiewe smaak in my mond.
Maar ek moet woord hou en uitkom by die drie ander maniere van publikasie (behalwe dié van die tradisionele uitgewer) nl. deur middel van selfpublikasie, hibriede uitgewers (Eng: hybrid publishing) en subsidie-uitgewers (Eng: vanity publishing). Die Nederlanders gebruik vir lg. tipe uitgewer ook die term ijdelheiduitgeverij. Dié tipe uitgewer bied produksiepakkette aan, en dan betaal die skrywer vir die produseer en die druk van die boek. Die prys varieer, en van seleksie is daar min sprake. Oor die algemeen word alle manuskripte aanvaar. Hoewel genoem is dat sodanige ydelheidsuitgewers nie pa staan vir die verspreiding van jou boek nie, blyk dit dat dit soms tog gebeur. Dit hang waarskynlik af van die prys van die pakket.
Wat ’n hibriede uitgewer van ’n subsidie- of ydelheidsuitgewer onderskei, is dat eg. ’n vennootskap tussen skrywer en uitgewer veronderstel wat meer selektief van aard is en meer op kwaliteit en die lesersmark fokus. Wat hierdie twee tipes uitgewers gemeen het, is dat die skrywer betaal vir die publikasiedienste.
Ons het nie ’n tradisionele uitgewer in ons land nie. Selfpublikasie is ’n opsie, en boeke van gehalte is beslis al op dié wyse gepubliseer. Vir my sou tegniese aspekte (soos uitleg en die keuse van geskikte sagteware) die grootste uitdaging wees.
Genoot, daarvan weet ek nou die f@k@slte van alles af! En boonop sit die spanners wat mens daarvoor nodig het – van alle plekke in die internet se wolk, en hoe op aarde, verskoon die woordspeling, kom ek daar!
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie