Briewe uit die binneland – Skrywerscafé – Authors Café (deel 1)
Liewe Genoot
Net wanneer ’n mens dink dat daar weinig nuuts onder die son is, tref iets jou dat jy steier.
Wat presies hierdie nuwe ding is, gaan ek so stuk-stuk probeer oordra in die loop van vandag en volgende week se skrywe. Die verhaal begin by die Iron Quill Book Exchange op Swakopmund. Die eienaar, Mariëtte Fenwick, gee vir my en my dogter, Marjanne elkeen ’n kaartjie om die afgelope Saterdag ’n byeenkoms, Windhoek Authors Café, by te woon. Eers wil ek jou vertel hoe onkundig ek is. En ja, ek is ’n bietjie skaam oor die verbeeldingsvlugte wat die benaming Authors Café in my wakker gemaak het, maar ook oud genoeg dat ek voel ek wil dit deel t.w.v. ’n bietjie vermaak. Heel opgewonde oor díé nuwe sosiale bymekaarkomplek waar mens jou skootrekenaar kan oopklap, ’n bietjie kan skryf, ’n koffie en vars croissant kan geniet, gaan soek ek Vrydag reeds na die Authors Café in Hügelstraat, maar ek kry niks nie. Ek vra toe die organiseerders, en eers tóé val die pennie. Windhoek Authors Café is slegs die naam van die werkswinkel wat aangebied word by die Creative Industry Institute wat net agter Windhoek Hoërskool geleë is. Nooit geweet van so ’n plek nie. (En daar is nog meer oor die plek te vertelle. Hou die spasie dop!)
Skryf en konsert hou het iets gemeen. Wanneer ek konsert wil hou, moet ek dit beplan, inoefen, en uiteindelik voor die gehoor staan. In Engels heet dit “from page to stage”. Die pad na die verhoog is veel langer as die optrede self. Om dit i.t.v. kreatief skryf te vertaal, sou jy kon praat van agterent-op-die-stoel-voor-die-rekenaar TOT BY boek-op-die-winkelrak. En dit is waaroor die werkswinkel, in Engels aangebied deur Nelao Books, gegaan het: broodnodige inligting vir voornemende skrywers.
Die hoofaanbieder, Delia Magg-Thesenvitz, stel haarself bekend as ’n “authorpreneur” (’n nuwe woord vir my) van Nelao Books. Dinge waaroor voornemende skrywers dikwels wonder, kom op die tafel:
– Om te skryf, vereis kreatiwiteit, maar om die boek te verkoop, vereis ’n weldeurdagte strategie.
– Die boek is eerstens ’n produk, en mense koop nie noodwendig ’n boek nie, maar ’n oplossing tot ’n probleem in die gedaante van ’n boek.
Hoewel dit betrekking sou kon hê op doen-dit-self-boeke, en boeke met ’n geestelike, opbouende strekking, dink ek nie dat dit dwarsdeur die bank van toepassing is nie. Veral nie op fiksie nie, want ’n mens wil tog ook lees bloot t.w.v. ontspanning en die ervaring van nuwe verhale.
– Wanneer jy jou boek beplan, begin met die eindpunt in gedagte: wie gaan jou boek koop? En die daaropvolgende skreiende vraag: Gaan jy ooit geld maak?
Wat dit betref, moet ek bieg dat dit wat ek gepubliseer het, t.s.v. die feit dat dit deur ’n hoofstroomuitgewer was, my nog net geld gekos het.
Dit bring ons by die uitgeeproses. Interessant was Delia se perspektief op die verskillende wyses waarop boeke deesdae gepubliseer word. Die tradisionele uitgewer bied aan die skrywer die beste opsie in díé sin dat sodra die manuskrip goedgekeur is, die uitgewer alle kostes dra: vanaf die produksiefase (waarvan die redigering die grootste werk is, tot by die duurste deel, die druk daarvan), tot by die verspreiding, bemarking en verkope. Hierdie manier van publikasie sou vanuit ’n skrywersoogpunt die gerieflikste opsie wees, maar die proses is lank, en dit wil voorkom asof jy op die ou end minder geld maak, tensy jy byvoorbeeld ’n Deon Meyer is. (Ek sou graag van Meyer wou weet of hy nie méér geld maak met sy vertaalde werke as sy oorspronklike Afrikaanse boeke nie.)
Genoot, die verhaal eindig nie hier nie. Ek wil graag volgende week uitkom by ánder maniere van publikasie waaroor daar tydens die Authors Café gesels is, en oor nóg nuwe dinge waarop ek afgekom het. Tot dan!
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie