Briewe uit die binneland – Skrynwerkers, engele en jukstaposisie
Lank nadat ek vanoggend in die sonnetjie met my meisiekind gesit en praat het oor genade, fantasie en die Onmoontlike, dink ek aan die lied wat Amanda Strydom sing. Ndiyakholelwa – ek glo, ek glo, ek glo!
Die lewe loop nie altyd stroomaf nie, en dinge gebeur wat ons herinner aan ons tydelike aard. Tog steier ek elke nou en dan van ontsag oor die manna wat voor my voete val.
Die man in my lewe, in sy hoedanigheid as die ingenieur in die familie, staan ons Alex-kleinkind by met ’n skoolprojek, ’n model van ’n ophaalbrug (draw bridge).
Kleinseun neem die kontrakteursposisie in, en ek word handlanger/aankoper/koffie-aandraer. Ek onderneem om die hout te gaan koop en te laat saag, en om die katrolwiel en slingers te gaan koop.
By een van die min skrynwerkswinkels wat voorheen bereid was om vir my eie houtwerkies planke op maat op te saag, stap ek in. Ek gee vir Jacques die planne in die hand en vra of hy kan help.
Hy bekyk die papier, en ek verwag so effens dat hy sal sê dat hy regtig nie tyd het vir skoolgoeters nie. Maar hy kyk, maak aantekeninge, en sê hy sal bel as alles klaar gesaag is. Dankbaar dat ek nie summier gepos is nie, stap ek daar weg om my ander goeters in die dorp te gaan doen.
Later die dag sal ek tog weer moet ry om die houte te gaan optel. Skaars het ek brood en melk gekoop, of Jacques bel my. Ek kan die houte kom haal. Vir ’n tweede keer die dag knipoog ’n engel vir my. Ek sal nie later vandag wéér hoef in te ry dorp toe nie.
Toe ek aankom, lê die vraggie gereed. Mooi opgesaag. Ek wil betaal.
Jacques: “Nee, daar word nie vandag betaal nie. Dit is vir die skoolprojek.”
Ek dring daarop aan om te betaal; sy tyd; sy hout! Maar die Duitser staan vas.
Dit kan nie wees nie. Ek het my gereed gemaak vir kort onder die duisend dollar. En daar kry ek dit verniet!
Terug na Amanda se lied – ’n verklaring van dit waarin sy glo: ’n kombinasie van die Goddelike en die aardse. Sy begin met die aardse dinge wat vir die mens goed is. Dinge wat op die oog af teenstellend lyk, word in jukstaposisie langs mekaar geplaas.
Sy sing dat sy in bome glo, en in rooibostee, in pantoffels en die blues; in duine en riviere, in kinders en die see. Sy glo in kerse en in skulpe, in wierook en die son; in kerrie en in Krismis.
Sy glo in branders en in fairies, in vye en in kaas. In blare en in weerlig, en in kitare wat kan raas! Natuurlik glo sy ook in rock’n roll en skaaptjops, in tjips en waatlemoen; in varings en in vere, in vergifnis en jasmyn. En hierdie Namibiër is besonder dankbaar dat sy ook in biltong glo, en in teddiebere, lelies en vonkelwyn. Al die heerlike aardse dinge ryg sy in, die een na die ander!
MAAR: Dan gaan sy oor van dinge en verskynsels na mense: sy glo in “liefde, en jou hande, en jou oë en jou mond, ... en in woorde wat nooit wond”.
Die lied eindig met ’n gebod: díé van die liefde: “Ek glo in God en al haar wonders, en jou reuk wat aan my klou. In storms en seisoene. En my lief, ek glo in jou. Soos die jare om ons oud word, my lief glo ek in jou!”
Ek verwonder my dat die lied die sogenaamde banale (dooie diere in die vorm van biltong en tjops) en die goddelike (liefde, kersfees, vergifnis) langs mekaar plaas om verrassende ooreenkomste te onthul, en by my ’n spesifieke emosionele effek van wonder te skep as ek na die lied luister.
Beide die klassieke teologie en die filosofie beskou engele as metafisiese, spirituele wesens wat per definisie volledig buite die fisieke, empiriese domein bestaan. Hulle werk onafhanklik van natuurwette en die beperkinge van die materiële wêreld.
Dankie Jacques. Jy’s ’n engel. ’n Duitse engel: presies, goed en klaar gepraat.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie