• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Briewe uit die binneland – Sewentigste jaarring op ’n stam
Photo Caption
Photo Caption

Briewe uit die binneland – Sewentigste jaarring op ’n stam

Chrisna Beuke-Muir

Liewe Genoot   

AI kan blykbaar alles. Raad gee. Deskundige raad, sê hulle. Ek toets hom so nou en dan uit. (Of is dit dalk ’n haar ... of gewoon ’n ... DIT?) No pun intended. Ek wil immers nie my medemens degradeer tot ’n AI-subspesie nie. As ek met AI ... “praat”, reageer DIT met “Thinking”, gevolg deur ’n paar trillende dotjies, en teen daardie tyd dink ek ook iets: “Flip” of nog iets wat met ’n lang-vvvff begin.  

Ek dink dat hy seker dink waar die muishond stink. I’m a poet and I don’t know’it. 

Genoot, eers iets anders: Ek het die naweek verjaar en my kinders en geliefdes was saam met my. En my susterskind vanuit Stellenbosch. Vier beeste het vir ons doodgegaan, want ek het vier sterte die hele vorige week lank opgekook om beesstertsop te maak. (My hare het die hele week na vleis gestink.) Iemand anders het vir my suurdeeg- en ander brode gebak. En om my gewete te sus dat daar darem ook gesonde goeters sal wees wat die kleinkinders kon eet sodat hulle ma-goeters rustig kon wees, het ek ’n bord kleurryke – rooi, geel en variasies van groen – rou gesonde dinge bestel met ’n yslike bak hummus om die ergste gesonde smake te demp. (Genoot, het jy hummus as kind geken? Ek nie. Hummus. Die woord val vir my as Afrikaanse boeremeisie effe verdag op die oor. Dit klink bitterlik na aan iets soos mis. So asof dit familie van kompos kon wees. Wat dit seker ook is. Kompos ... tog goed vir die grond. Hummus ... seker goed vir die mens. Maar ek dwaal wéér af.)

Voor die mense kom, was ek vir oulaas die vleisreuk uit my hare uit en van my lyf af, en trek vars klere aan. Die kinders wat vroeg is, help met die laaste goeters. Manlief sorg vir die vuur. Ek wou nog kerse ook op sekere plekke in die huis plant, maar kom nie daarby uit nie, en toe die wyn begin vloei, het ek ook nie verder daaraan gedink nie. Die vuur was darem een groot kers. 

Soos vele van my tydgenote, is my ouers nie meer met ons nie. En my twee sibbes het ook al aanbeweeg. Maar ek het kinders. Die groot God is goed vir my. Ek het kinders en ’n man wat vir my lief is. En ons was sáám gewees. En ons het fees gevier. 

Die twee groot potte sop sak stadigaan deur die aand, en die brode word gebreek en gebruik. Daar word selfs versigtig aan die groente gepeusel. En dan vra ek my kitaar-kind om vir ons ’n paar songs te speel. Hy gryp sy bak, knyp hom onder die arm vas. Sit sy een voet op die eetkamerstoel, begin vroetel aan die snare, en draai hier en daar aan ’n knoppie. Hy speel. Partykeer sing ons saam, meestal is dit net Jan-Willem wat sing. Soms gesels ons so ’n bietjie tussendeur. 

Genoot, en nou kom ek by ’n moeilike ding, en dit is om gevoelens uit te druk met net taal en tekens tot my beskikking. Om ’n diepe vreugde te verwoord waarmee ek nêrens heen kan gaan nie. Waar hart, verstand en lyf oop, warm en heerlik voel omdat die oomblik, nee, die aand vir my v-e-e-e-r verby ideaal is. Dit is iets in my kop, maar ook in my keelgat en mond. En in my lyf waar die bloed deur my are sidder. Warm en hier.

Genoot, en toe vra iemand vir my wat die woord “genoot” dan nou eintlik beteken. Self twyfel ek of dit ’n Afrikaanse woord is. Wat ek self daarin sien, is die aanspreekvorm vir iemand wat my kultuur ken. Iemand wat die omgewing ken waarin ons woon. Moontlik dink ek ook aan lesers wat nie meer kinders is nie. Ek twyfel of ’n skoolkind  belang sou stel in dit wat ek skryf. Die aanlyn Nederlands Nationaal Woordenboek beskryf genoot as “iemand met wie je een hechte band hebt, bijvoorbeeld een vriend of familielid.” En toe voel ek gerus. Want liewe leser, dit is wat jy vir my is. Maar vandag het ek vir jou nog twee vrae:  Sal jy asseblief aan ’n Afrikaanse variant dink vir die Engelse “no pun intended” wat ek in die eerste paragraaf gebruik het? En dan wil ek ook vir jou vra hoe jy voel oor die woord “songs” wat ek twee paragrawe terug gebruik het. Sou “liedere” of “liedjies” hier beter gepas het?


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer