Briewe uit die Binneland: Rugby se komvandaan
Ek kon nie mooi vasstel of dit Oscar Wilde of ’n kansellier van die Universiteit van Cambridge wat gesê het: “Football is a gentleman’s game played by ruffians; rugby is a ruffian’s game played by gentlemen”.
Maar my rustelose aard verhoed my om geboei te word deur ’n sokkerwedstryd wat dikwels, soos in die geval van vanjaar se wêreldbeker-finaal, ná 90 minute se heen en weer geskop, steeds ’n telling van 0-0 oplewer. Tog is dit juis sokker, en waarskynlik die gebrek aan opwinding in die spel, wat gemaak het dat die skoollaaitie William Webb Ellis op ’n dag in 1823 die bal – tóé was dit volgens bronne nog rond – gegryp het en daarmee weggehol het tot agter die doellyn. Op daardie stadium mag spelers wel die bal met hul hande aanraak, maar om dit op te tel en daarmee te hol, was taboe. Dit moes oor die doellyn geskop word.
Hoewel Ellis se verhaal waarskynlik nie die presiese oorgang van sokker na rugby vertel nie, het dit later die simboliese oorgang vergestalt. En dit het alles egter begin in die Engelse stad, Rugby in die Warwickshire-provinsie met sy prestige Rugby School. (Behalwe Ellis, was ook ene Lewis Caroll, die skrywer van Alice in Wonderland daar op skool.)
Van ’n stel gestandardiseerde reëls was daar tóé nog nie sprake nie, en die verskeidenheid speelstyle het dikwels die veld in chaos gedompel. En wanneer die rugbybal eiervormig begin word het, kon ek nie vasstel nie. Rugby-School het egter die toon aangegee in die ontwikkeling van die sport. O.l.v. ene Thomas Arnold, die skoolhoof van 1828 tot 1842, en sy entoesiastiese leerlinge word die spel toenemend populêr. Toe vele van die leerlinge vanaf 1841 universiteit toe gaan (hoofsaaklik na Oxford en Cambridge) het die behoefte aan standaardisasie aanleiding gegee tot die sg. Cambridge Rules van 1845. En hier het die konsep van die ‘scrummage’, voorloper van vandag se skrum, sy kop uitgesteek, asook die verbod op vorentoe speel. Teen 1863 het die reëls verder ontwikkel onder die invloed van koshuis- en klubwedstryde, en rugby word toenemend beskou as die sport van die ‘Britse imperiale manlikheid’, geassosieer met die opvoeding van jongelinge op skool en universiteit. Ná hul skool- en universiteitsloopbane wou die manne aanhou speel, en die eerste klubwedstryd vind in 1863 in Engeland plaas toe Blackheath teen Richmond speel.
Maar dônner en bliksem was toe nog deel van die spel. Vir ’n tyd lank is “hacking” toegelaat waar jy jou opponent aspris kon trap en op sy skene kon skop om hom buite aksie te stel. Ene F.W. Campbell van Blackheath, het hierdie hacking-aksie geregverdig deurdat dit karaktervormend sou wees, en dat die afskaffing daarvan aan die spel ’n onmanklike karakter sou besorg.
In 1897 tydens ’n oefenwedstryd sterf ’n speler op die veld. . .
In dieselfde jaar vind die eerste internasionale wedstryd plaas toe Skotland in Edinburgh teen Engeland opdraf. Die Skotte wen!
Daarna word al hoe meer klem gelê op die handhawing van disipline, selfbeheersing, wedersydse respek en regverdige spel, en teen die einde van die 19de eeu word rugby (en krieket) beskou as die sport waar die manne hulle moet gedra. Onbaatsugtig en onverskrokke moet hulle as ’n span saamwerk. Selfbeheersing word inherent deel van die spel.
Vir slegs ’n kort tydperk (1900-1924) was rugby op die Olimpiese agenda. Maar in 1987 vind die eerste wêreldkampioenskap rugby plaas in Australië en Nieu-Seeland. Behalwe die spanne van dié twee lande, en dié van die Britse Eilande, neem die VSA, Japan, Tonga, Fidji, Argentinië, Italië, Frankryk, Roemenië en Zimbabwe ook deel. Die Springbokke word a.g.v. die internasionale boikot uitgesluit. In die finaal wen die All Blacks die Franse met 29-9.
Volgende jaar vind die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Australië plaas en die Bokke sal daar wees. Ek ekke is so bly. En een van die dae kom die All Blacks Suid-Afrika toe.
En kyk gat ek kyk. Al is dit dan net op TV.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie