• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Briewe uit die binneland – Rugby se haka en ’n bachelor’s
Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Rugby se haka en ’n bachelor’s

Liewe Genoot

Op my skoolreünie se WhatsApp-groep word ’n Suider-Afrikaanse weergawe van die Kiwi’s se haka geplaas.

Ek wil dit met jou deel, maar ek wil dit hier WYS, sonder om te vertel. Die haka is immers ’n skouspel van beeld en klank – veel meer as skryftekens.

Die vyftiental skoolseuns staan bymekaar op die rugbyveld. Die bekkigste loop tussen hulle rond en skreeu: “Ek sê, bring vir my ’n braaitang!”

Die manne rondom hom begin onrustig beweeg. Hulle klap teen hulle dye en beaam uit volle bors.

“Ja! En die vuur!” Stilte. Met knieë effens gebuig, arms voor hulle uitgestrek op kop- en borshoogte, hande trillend, skop die reuk van bloed in.

Breker (bulderend): “Ek steek vir my ’n vuur aan! Ek maak vir my ’n jaffle!” Neusvleuels sper oop, en die eerste treë van die oorlogsdans laat die aarde sidder.

Die manne eggo Breker met “Ja! Op die vuurrr!”

Breker: “Ek vat my braairooster en maak vir my ’n braaibroodjie!”

Die manne spring op en dreun: “Ja! Met tamatie, uie en kaasssssssss!” Die “s” word giftig, kop omhoog die blou hemel in gesis met ontblote tande. Die pawiljoen giggel gedemp, en die manne sak op hulle knieë neer van aandoening.

Breker, nou éérs geïnspireerd: “Ek vra julle nou: hoe hou ons van ons tee!” Die manne spring op, kap ritmies met die elmboë in die handpalms: “Ons hou van ons tee met Ouma-beskuit, Ouma-beskuit. Ja-a-a-a-a-a-!”

Breker: “En kameeldoring!”

Manne: “Kameeldoring! Ek is ’n man, ek hou van vuurrrrrrrr!” Die laaste woord veroorsaak tuitmonde wat die Kaapse Klopse se brass band na verveelde tieners sou laat lyk.

]“Ouma-beskuit! Kameeldoring en vuur!” dreun dit ten hemele en bewende hande word bo die koppe die blou lug ingestoot. Dramaties sak die regterhande in brute snybewegings oor die kele. Die pawiljoen word rasend, die opposisie onseker.

Dan ontspan Breker, en sy manne kyk rustig na mekaar. Hulle ontbind, en neem hulle plekke op die veld in, reg vir die afskop.

Genoot, die afgelope naweek het ek ’n soortgelyke ritueel beleef. Een waarby ek intens betrokke was, en eintlik nie moes gewees het nie – volgens konvensie. My Adriaan-kind trou oor twee weke, en Saterdag het sy jongste broer vir hom ’n bachelor’s gereël. As geëmansipeerde vroue woon ek, sy sussie en sy skoonsus dit by. Ek maak my daarvoor gereed dat hulle my seun voor die haka-vuurpeloton gaan staanmaak. (As jy sibbes het, is vyande niks.) So is dit ook. Vlerke op sy rug – met flikkerende liggies, ’n bra (nr. 42 en pienk oor sy wit T-hemp), en ’n plakkaat om sy nek wat lees: “Last Fling B4 the Ring”. Hulle doen aan by Windhoek se watergate. Seun loop op sy hande by Hennie’s; by Handle Bar karaoke hy saam met sy broer (o.a. een van Tenacious D se liedjies wat uit ’n letterkundige oogpunt absoluut puik is, maar nie op die verhoog tydens die Woordfees sal werk nie).

Ek besef: hoe hét tye nie verander het. Ek is op 21 getroud; my seun gaan trou as hy 42 is. Letterlik twee maal ouer as wat ek was. Ek dink nie my oupa het ’n bachelor’s gehad nie. Ook sou Oupa – sóú hy ’n bachelor’s gehad het – nie in die openbaar gesing het oor dinge wat hy in die slaapkamer gaan doen nie. Hy en Ouma het nagmaalwyn gedrink, en soetwyn – nou en dan. Nie soos ek wat saamgekuier het en daarna ouma-alleen terug huis toe ge-LEFA het nie.

Die haka en die bachelor’s is beide satires, ’n repetisie vir hoe om beskaafd te kompeteer, oorlog te maak, en hoe om vir jou vriend/broer/seun te laat weet dat hy vir jou ontsettend belangrik is.

Liewe lesers, laat weet my van ’n Afrikaanse ekwivalent vir “bachelor’s”. Hou in gedagte dat “jonkman/ jongkêrel” verouderd is. “Vrygesel” is ook vir my onder verdenking oor meer as een rede. Gee my tog iets nuuts!

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-03-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer