No Image Caption

Briewe uit die binneland – Op soek na passie

Liewe Genoot

Ek vermoed dat waarmee my kop vandag besig is, te doen het met kwantumfisika.

Ek probeer dit verstaan, maar dit knor! Dit kom vir my voor as iets wat binne my bereik is, en waaruit ek voordeel kan trek. Dit dra die geur van God.

Die Oxford Language-woordeboek beskryf dit as die moontlikheid dat ’n partikel (’n klein deeltjie soos ’n atoom of ’n elektrone) hom op ’n gegewe moment op meer as een plek kan bevind, en meer as een funksie kan verrig, byvoorbeeld as ’n deeltjie op sy eie, of as deel van ’n golflengte. (Dit vorm blykbaar die grondslag waarop rekenaars en lasertegnologie funksioneer.)

Hoe ek dink en voel, bepaal die toestand van my brein. En Genoot, ek sit opgeskeep met ’n groot klomp emosies wat my verrinneweer. Hartseer omdat ek toegelaat het dat dinge uit die verlede my definieer, en dit veroorsaak op sy beurt ’n klomp emosies, o.a. skuldgevoelens en frustrasie. En as ’n mens herhaaldelik daaraan dink, kondisioneer jy jou liggaam om onbewustelik ’n onseker gees te word, want hierdie emosies word deel van jou identiteit.

Maar Genoot, toe ek hierdie naweek sien hoe Siya Kolisi met ’n groot oop mond, sy kop agtertoe gooi en uit sy hart uit die volkslied sing toe Suid-Afrika teen Italië rugby speel, is my eerste reaksie om ook soveel passie in my lyf te wil voel. Ek wil nie meer gedefinieer word deur my opgegaarde beelde van die verlede nie.

’n Amerikaner, dr. Joe Dispenza, het oorspronklik as chiropraktisyn begin werk, en later navorser en skrywer geword. Hy het nagevors oor hoe jou brein hergeprogrammeer kan word om van ’n negatiewe leefwyse ontslae te raak.

Sy redenasie is dat die mens grotendeels die produk van sy verlede is. As jy nie daartoe in staat is om vir jouself nuwe moontlikhede vir die toekoms te visualiseer nie, bly jy in jou lyf en kop vasgevang in die templaat van die verlede.

Maar Genoot, is dit überhaupt moontlik om ’n toekoms wat jy nog nie gesien en ervaar het nie, met jou sintuie vas te vang, en jou brein te bluf sodat dit kan verander asof die ervaring al gebeur het? Maar dan wil ek vandag vir jou sê dat ek dit met my hele hart glo. Ek glo – nee, ek wéét – die Groot Maker het ons so bedraad dat ons met ons kop kan vra wat ons nodig het sodat ons gelukkige skepsels kan wees.

Volgens die nuutste neurowetenskaplike navorsing kan jy jou brein verander deur net maar te dink. Die brein maak nie onderskeid tussen iets negatiefs wat daadwerklik met jou gebeur het, en positiewe beelde en gepaardgaande emosies wat jy vir haar voer (laat visualiseer) nie. Wanneer jy begin nadink oor nuwe planne, begin die sinapse in jou brein nuwe paaie en patrone volg, en nuwe, vars kombinasies ontstaan.

Jy begin om op te tree asof dit ’n realiteit word en jou verstand staan in die wegspringblokke daarvoor, en word as’t ware ’n padkaart vir die toekoms. Waar jou ou self werk op ’n model van oorsaak en gevolg, werk die kwantummodel met die totstandbring van ’n uitwerking.

In die neurowetenskap staan hierdie proses bekend as (a) die snoei van ou sinaptiese verbindings (die afleer van ou perspektiewe en gewoontes) en (b) die ontkieming (aanleer) van nuwes. Dit kom neer op die loslaat en ontkoppeling van ou emosies wat deur die jare in die liggaam opgegaar is, en die aktivering van nuwe positiewe ervarings.

Die liggaam moet nou aanpas by ’n nuwe verstand en gees waar jy ander boodskappe in die universum om jou instuur. Die energie waarmee jy die negatiewe verlede gekoester het, word nou gekanaliseer en in die toekoms belê.

Genoot, as jy hoegenaamd nog verder lees, is ek dankbaar. Want dalk dink jy dat dit hier gaan oor ’n gepeuter met ’n mens se identiteit. En ek dink jy is reg. Maar gee my ’n kans. Ek is besig om dit te toets. Kom ons praat volgende week verder. Ek sal jou laat weet hoe dit gaan.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer